Heftige ‘skrumstryd’ bars in Wallis los

Foto: Independent.blogs.co.za

Foto: Independent.blogs.co.za

`n Heftige “skrumstryd” is in Wallis aan’t onwikkel nadat die nasionale voorspelerafrigter, Robin McBryde, kommentators op die TV-kanaal S4C se Clwb Rygbi gekapittel het oor hul kritiek op skrums.

Hierop het Gwyn Jones, `n gerespekteerde rugbyontleder van S4C, McBryde in The Western Mail (Cardiff) gewaarsku dat hy moet besef skrums is besig om mense van rugby te vervreem en die voorste Walliese skeidsregter, Nigel Owens, het in dieselfde koerant gesê die fout met skrums lê by die spelers en beamptes en nie by die reëls nie.

In die TV-onderhoud met McBryde tydens die wedstryd tussen die Ospreys en die Gwent Dragons in die Libertystadion, Swansea, het hy gesê kommetators moet minder oor die skrums kerm en eerder die kykerspubliek opvoed deur die “subtiele kuns” en tegniese vaardighede daarvan aan hulle te verduidelik.

“As jy nie van skrums hou nie, moet jy `n ander sport kry om dop te hou,” het hy uitgevaar.

Jones het in die Mail teruggekap dat dit as `n verrassing vir McBryde mag kom, maar dit is presies wat mense doen. Hy kon met sy eie oë sien die stadion was maar `n derde vol vir `n Walliese derby. Die vorige dag was dit stampvol vir `n sokkerwedtryd tussen Swansea City en West Ham United.

`Spel sal uitsterf’

Hy sê die meeste mense met wie hy intussen gesels het, het na `n ander kanaal oorgeskakel teen die tyd dat McBryde se “lesing” verby was.

“As skrums nie verbeter nie, kan net twee dinge gebeur: òf skrums soos ons dit ken verdwyn, òf die spel sal uitsterf,” meen Jones.

“Ondersteuners, borge en uitsaaiers sal nie vir skrums betaal nie, hoe tegnies betowerend dit ook al vir sommiges mag wees. Tensy afrigters dit besef, is die spel wesenlik in gevaar.”

Owens het aan die koerant gesê dis onsinnig om die skrumreëls te wil verander. Skrums wat ineenstort is die spelers se skuld en niemand anders s’n nie.

Hy sê die probleem lê grootliks by stutte wat met hul voete te ver terug skrum omdat hulle gewoond is om teen skrummasjiene te oefen. In `n wedstryd is sake anders. As die skrum vorentoe beweeg, moet die spelers se voete saam beweeg ander is val die logiese uitweg.

Geelkaart

Hy glo ook skeidsregters moet seker maak hulle kan die ware skuldiges uitwys en vroeg in die wedstryd al `n geelkaart uitdeel as daar nie op waarskuwings ag geslaan word nie. Dit moet oor dieselfde kam as ander opsetlike oortreedings geskeer word.

Owens sê twee seisoene gelede was daar ernstige skrumprobleme in die Sesnasiesreeks. Joel Jutge, die skeidsregtersbestuurder van die destydse Internasionale Rugbyraad, het die skeidsregters saamgeroep en hulle het die sondaars uitgewys. Daarop is die afrigters van die betrokke lande genader en gewaarsku dat hulle òf die saak met hul spelers opklaar òf moet aanvaar dat hulle met geelkaarte reggesien sal word.

Die volgende seisoen het sake betekenisvol beter verloop en dié soort skakeling is dalk aan `n wyer front nodig.

“Dinge is ongelukkig weer op die topvlak aan’t verswak en dit moet ernstige kommer baar, veral omdat dit die toeskouers wat betaal, aan die kortste end laat trek.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.