Held kry 36 punte in Luiperdsslagting

George Whitehead - 36 punte (Foto: Cheetahs Rugby)

George Whitehead – 36 punte (Foto: Cheetahs Rugby)

`n Merkwaardige 36 punte Saterdag deur die Griffons se losskakel het die span op Welkom gehelp die Curriebeker se Eerste Ligakampioen, die Luiperds, behoorlik te slag.

George Whitehead se bydrae tot sy span se onverwagse groot sege van 76-26 het uit drie drieë, nege doelskoppe en `n strafdoel bestaan.

In Saterdag se ander wedstryde het die Blou Bulle naelskraap teen die Cheetahs-vyftiental gewen; en soos verwag is, het die Goue Leeus (66-12) en die Bolandse Kavaliers (37-18) onderskeidelik die Welwitschias en die OP Kings oortuigend geklop.

♦ Die ongelooflike ommekeer sedert verlede jaar in die Luiperds se vertoning sal die ringkoppe op Potchefstroom tot diepe nadenke moet stem. Toe die spanne laas kragte gemeet het, het die Luiperds 64-34 gewen.

Die NWU Pukke is dan op die koop toe vanjaar se Varsitybekerkampioen.

Kan dit wees dat die afrigter Robert du Preez se vertrek na die Sharks toe só `n enorme leemte gelaat het?

Naas Whitehead, wat die spel soos `n generaal gedikteer het, het die vleuel Selvyn Davids ook `n driekuns behaal, met die Griffons wat altesaam 11 drieë gedruk. Die senter Vuyo Mboto het vir twee daarvan gesorg.

Die rustydtelling was reeds 38-5 in `n onstuitbare tuisspan se guns.

Manie Libbok (Foto: Facebook)

Manie Libbok  – agt punte. (Foto: Facebook)

♦ Elf minute voor die eindfluitjie op Loftus Versfeld geblaas het, was die Cheetahs-vyftiental gerieflik 17-3 (rustyd 7-3) voor en dit het gelyk of die Bulle in die stof byt.

Dit was egter genoeg vir die Pretorianers om drie drieë en `n doelskop binne ses minute te behaal en die wedstryd 20-17 te wen.

Callie Visagie se wendrie het in die 75ste minuut gekom.

Die 18-jarige heelagter Manie Libbok, wat verlede jaar nog vir die SA Skole gespeel het, het `n drie en `n strafdoel vir die Bulle behaal.

Selom Gavor - drie drieë (Foto: Varsity Cup)

Selom Gavor – drie drieë. (Foto: Varsity Cup)

♦ Die vleuel Selom Gavor het drie van die Goue Leeus se tien drieë gedruk en die heelagter JW Bell en plaasvervanger-slot Bobby de Wee elk twee.

Die Springbok-losskakel Marnitz Boshoff se ses doelskoppe het 12 punte vir sy span opgelewer.

Die Leeus was rustyd al 38-5 voor en daar was nooit regtig twyfel oor die uitslag in die Hage Geingobstadion in Windhoek nie.

Hulle het aansienlik beter vertoon as in die eerste wedstryd vanjaar toe die Grens se Bulldogs hulle 27-23 geklop het en was in die tweede helfte as ‘t ware die enigste span op die veld.

♦ Die Bolandse Kavaliers, wat verlede jaar tweede laaste in die Curriebeker- Eerste Liga was, het sy goeie sege oor die Sharks-vyftiental met nog `n stewige oorwinning oor die OP Kings in die Bolandstadion op Wellington opgevolg en lyk na `n span wat dopgehou kan word.

Nico Scheepers - 12 punte. (Foto: Facebook)

Nico Scheepers – 12 punte. (Foto: Facebook)

Die veteraanvleuel Danwel Demas het twee drieë vir die Bolanders gedruk, en die heelagter Nico Scheepers se bydrae was 12 – drie doelskoppe en twee strafdoele.

Die Kings het nooit gaan lê nie en dit was eers ná Demas se tweede drie in die 70ste minuut dat die uitslag bo alle twyfel gestel het.

Courtnay Winnaar, die besoekers se heelagter, het `n drie en twee strafdoele (11 punte) vir die Kings aangeteken.

Die puntemakers –

Welwitschias 12 (5) – Drieë: Riaan van Zyl, Daryl de la Harpe. Doelskop: Shawn Kaizemi.

Goue Leeus 66 (38) – Drieë: Luvoyiso Lusaseni, Selom Gavor 3, Ramone Samuels, Koch Marx, JW Bell 2, Bobby de Wee 2. Doelskoppe: Marnitz Boshoff 6, Shaun Reynolds 2.

Blou Bulle 20 (3) – Drieë: Tapiwa Tsomondo, Manie Libbok, Callie Visagie. Doelskop: Joshua Stander. Strafdoel: Manie Libbok.

Vrystaatse Vyftiental 17 (7) – Drieë: Ox Nche, Ntokozo Vidima. Doelskoppe: Pieter-Steyn de Wet 2; Strafdoel: Pieter-Steyn De Wet

Griffons 76 (38): Drieë: Selvyn Davids 3, George Whitehead 3, De Wet Kruger, Norman Nelson, Tertius Maarman, Vuyo Mboto 2. Doelskoppe: George Whitehead 9. Strafdoel: George Whitehead.

Luiperds 26 (5): Drieë: Tiaan Liebenberg, Roan Grobbelaar, Leon du Plessis, Adrian Vermeulen. Doelskoppe: Rhyno Smith 3.

Boland Kavaliers: 38 (17) – Drieë: Ockie van Zyl, Chadley Wenn, Zandré Jordaan, Danwel Demas 2 Doelskoppe: Nico Scheepers 3. Strafdoele: Scheepers 2.

OP Kings 18 (11) – Drieë: Somila Jho, Courtney Winnaar. Strafdoele: Winnaar 2.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.