Hele paar verrassings in nuwe Supersport-reeks

Marko Janse van Rensburg het die Pumas se eerste drie teen die Blou Bulle op Loftus Versfeld gedruk. (Foto: Johann Rynners/Steval Pumas)

Die nuwe Supersport-uitdaagreeks het sommer met die intrapslag ʼn hele paar verrassings opgelewer.

Die Pumas het Saterdag die Blou Bulle op Loftus Versfeld in Pretoria met 31-23 geklop (rustyd 9-13); die Griekwas het die Sharks-vyftiental op Kingspark in Durban oortuigend met 28-7 verslaan (rustyd 14-7); en die Luiperds het verlede jaar se Curriebeker- Eerste Ligawenner, die Griffons, in Welkom met 29-17 getroef (rustyd 24-5).

Sondag het die Grens die Boland, verlede jaar se uitskieter in die opstelronde van die Curriebeker, in ʼn spannende stryd in die Wolfsonstadion in Port Elizabeth met 28-25 geklop (rustyd 14-20).

In Saterdag se ander wedstryd het die Valke in die Barnardstadion op Kemptonpark met 50-33 teen Namibië se Welwitschias gewen (rustyd 17-20); en Sondag se hoofwedstryd in die Wolfsonstadion is met 30-18 deur die Westelike Provinsie teen die Oostelike Provinsie gewen, nadat die Streeptruie ʼn rustydagterstand van 10-13 moes uitwis.

♦ Die Pumas het merkbaar beter in die tweede helfte gespeel en tien minute voor die einde die voortou geneem toe hulle die uitslag met twee vinnige drieë beklink het.

Dit lyk of die nuwe Pumas-afrigter Brent Janse van Rensburg se klem op die basiese dinge in rugby vrug kan dra.

Hy het sy span geloof vir sy vasbytkarakter, en die suksesvolle omswaai van ʼn rustydagterstand van 9-13.

♦ Anders as wat die telbord kan aandui, het die kragmeting tussen die Griekwas en die Sharks ʼn strawwe stryd opgelewer met die telling vyf minute voor die einde nog, soos met rustyd, 14-7 in die besoekers se guns en was die Sharks op die aanval.

Dit was toe dat die Griekwas-plaasvervanger Enver Brandt ʼn bal op sy eie doellyn onderskep en verder as 90 meter vir ʼn drie genael het.

Die bonuspuntdrie het in die laaste minuut gevolg.

♦ ʼn Verbete terugvegpoging en akkurater stelskopwerk het verseker dat die Grens sy wedstryd teen Boland wen.

Albei spanne het vier drieë gedruk en die Oos-Londense span het al vier syne verdoel, terwyl die Bolanders net een doelskop benut het.

♦ Die Valke se sewe drieë en sege van 50-33 oor die Welwitschias plaas hulle boaan die Noordelike punteleer, maar dis die Namibiërs se vertoning wat opval.

Hulle het in hul eerste wedstryd twee bonuspunte verdien nadat hulle die hele vorige seisoen met ʼn enkele een geëindig het.

Die 33 punte wat die besoekers opgestapel het, is ook agt meer as verlede jaar se hoogste telling.

Dit, en die feit dat die Namibiërs rustyd met 20-17 voor was, wek die vertroue dat hulle vanjaar mededingender as in die verlede sal wees, veral as die span se diepte na die einde toe hou.

♦ Die Luiperds het die slag in die eerste helfte gelewer, met hul losskakel Schalk Hugo wat ʼn belangrike bydra tot die span se rustydvoorsprong van 24-5 gelewer het.

Die tuisspan het in die tweede helfte die bordjies tot ʼn mate verhang, maar het nie die skietgoed gehad om die Luiperds in te haal nie.

♦ Swak dissipline en te veel foute deur die OP het sake op die ou end makliker vir die WP gemaak, maar die eerste helfte van Saterdag se wedstryd het die hoop laat opvlam dat sake vorentoe weer beter met die bond se rugby kan verloop.

Die besoekers kon net een drie meer (vier) as die tuisspan (drie) druk.

Puntemakers –

Blou Bulle 23 (13) – Drieë: Sibahle Maxwane, Divan Rossouw. Doelskoppe: Altonio Jantjies, Tinus de Beer. Strafdoele: Altonio Jantjies (2), Joshua Stander.

Pumas 31 (9) – Drieë: Frank Herne (2), Marko Janse van Rensburg, Devon Williams. Doelskop: Kobus Marais. Strafdoele: Marais (3).

Sharks-vyftiental 7 (7) – Drie: Juan Schoeman. Doelskop: Johan Deysel.

Griekwas 28 (14) – Drieë: Jason Fraser, strafdrie, Enver Brandt, Tertius Kruger. Doelskoppe: George Whitehead (2), André Swarts, straf-doelskop.

Valke 50 (17) – Drieë: Etienne Taljaard (2), Dian Koen, Grant Janke, Ernst Ladendorf, Keaton Gordon, Maphutha Dolo. Doelskoppe: Warren Potgieter (6). Strafdoel: Warren Potgieter.

Welwitschias 33 (20) – Drieë: Gino Wilson, Lesley Klim, Maharua Katjijeko, Eugene Jantjies, Leneve Damens. Doelskop: Theuns Kotzé. Strafdoele: Theuns Kotzé (2).

Griffons 17 (5) – Drieë. Henco Greyling, Khwezi Mkhafu, Niel Claassen. Doelskop: Jaun Kotzé.

Luiperds 29 (24) – Drieë: Gene Willemse (2), Schalk Hugo, Loftus Morrison. Doelskoppe: Schalk Hugo (3). Strafdoel: Schalk Hugo.

Grens 28 (14) – Drieë: Sonwabiso Mqalo, strafdrie, Michael Makase, Blake Kyd. Doelskoppe: Oliver Zono (3), straf-doelskop.

Boland 25 (20) – Drieë Charles Mayeza, Danwel Demas, Marlyn Williams, Zandre Jordaan. Doelskop: Elgar Watts. Strafdoel: Elgar Watts.

WP 30 (10) – Drieë: Marcello Sampson, Grant Hermanus, Luke Stringer, Jaco Coetzee. Doelskoppe: Brandon Thompson (2). Strafdoele: Brandon Thompson (2).

OP 18 (13) – Drieë: Siyanda Grey, Stefan Ungerer, Alshaun Bok. Strafdoel: Garrick Mattheus.

Opgesomde punteleer –

Noord

Valke 5, Pumas 5, Welwitschias 1, Blou Bulle 0, Goue Leeus (loslootjie) 0.

Sentraal

Griekwas 5, Luipers 5, Griffons 0, Sharks 0, Vrystaat (loslootjie) 0.

Suid

Grens 5, WP 4, Boland 2, OP 0, SWD (loslootjie) 0.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.