Herculestaak wag op Griekwas in die Kaap

Niks anders nie as ʼn herculestaak wag op Griekwas as hy hoop om Sondag sjampanje uit die eerste Supersportbeker te drink.

Die Westelike Provinsie loop soos ʼn goed geoliede masjien, en is nog nie in die reeks geklop nie.

Griekwas weer, het wisselvallig vertoon; teen die Luiperds (in Kimberley) verloor, teen die Sharks-vyftiental gelykop gespeel, en twee noue ontkomings teen die Vrystaat-vyftiental gehad.

Sy sege oor die Goue Leeus-vyftiental toon dat hy nie buite rekening gelaat kan word nie, en hy sal grootliks op sy buiteperdstatus staatmaak as hy hoop om die tuisspan te verras.

Dis onwaarskynlik dat die WP in oorgerustheid sal verval, want met sy lang onoorwonne lopie weet hy elke teenstander vorentoe brand om hom te klop.

Die plaaslike ondersteuning op Floridapark in Ravensmead sal onteenseglik die Streeptruie begunstig.

Dis die tuiste van Tygerberg wat 12:00 teen Belhar in die WP se Superliga A kragte meet.

Met die Tiere (31 punte) vyfde op die punteleer en die besoekers (25 punte) sewende, word ’n genadelose stryd in die vooruitsig gestel.

Die hoofwedstryd begin 14:30.

♦ Die WP het vier veranderinge en ʼn posisionele skuif aan sy opdrafspan aangebring; die Griekwas slegs een wysiging.
Marcello Sampson skuif na die regtervleuel om plek vir die Springbok Bjorn Basson te maak; Brandon Thompson is die nuwe binnesenter; JD Schickerling draf as slot, en Oli Kebble as loskopstut op.

In die Griekwaspan is Koch Marx as binnesenter ingesluit.

Die spanne –

WP

15. Craig Barry, 14. Marcello Sampson, 13. Michal Hazner, 12. Brandon Thomson, 11. Bjorn Basson, 10. Kurt Coleman, 9. Godlen Masimla, 8. Jaco Coetzee, 7. Johan du Toit, 6. Eital Bredenkamp (kaptein), 5. JD Schickerling, 4. Jurie van Vuuren, 3. Michael Kumbirai, 2. Chad Solomon, 1. Oli Kebble. Bank: 16. Dean Muir, 17. Ash Wells, 18. Eduard Zandberg, 19. Luke Stringer, 20. Herschel Jantjies, 21. Ryan Oosthuizen, 22. Grant Hermanus.

Griekwas

15. Eric Zana, 14.Ederies Arendse, 13. Koch Marx, 12. Tertius Kruger, 11. AJ Coertzen (kaptein), 10. George Whitehead, 9. Christiaan Meyer, 8. Jason Fraser, 7. Sias Koen, 6. Wendal Wehr, 5. Pieter Janse van Vuuren, 4. FP Pelser, 3. Ewald van der Westhuizen, 2. AJ le Roux, 1. Liam Hendricks. Bank: 16. Marius Fourie, 17. Nicolaas Oosthuizen, 18. Jonathan Adendorf, 19. Jonathan Janse van Rensburg, 20. Renier Botha, 21. André Swarts, 22. Enver Brandt.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.