Herinneringe aan Tom Lister

Tom Lister (Facebook)

Tom Lister, ʼn gewese All Black-flank, is in die naweek ná ʼn lang stryd teen kanker oorlede.

Tom wie? sal die meeste lesers seker vra.

Lister (73) het maar agt toetse vir die All Blacks tussen 1968 en 1971 gespeel, onder meer in twee toetse teen die Bokke in 1970.

Dis waar die storielyn vandaan kom, en dis waaroor die Nieu-Seelandse ondersteuners steeds nagmerries kry.

Lister is vir die eerste toets op Loftus Versfeld saam met Ian Kirkpatrick en die agtsteman en kaptein, Brian Lochore, as losvoorspeler-kombinasie ingespan – teen die Bokke se Piet Greyling, Jan Ellis en Albie Bates.

Voor die toer was die All Blacks vir vyf jaar (van 1965 se derde toets in Christchurch af, toe die Bokke die All Blacks met 19-16 geklop het) tot voor die eerste toets in 1970 in 17 opeenvolgende toetse onoorwonne.

Maar die Bokke het teen alle verwagtinge in met 17-6 gewen, omdat die All Blacks die Bokke heeltemal onderskat het.

Lister het deel van die skuld gekry en moes plek vir die geharde Alex Wyllie maak, wat nie geskroom het om met voete eerste ʼn teenstander by te kom nie.

Die tweede toets op Nuweland was uiters brutaal. Die Bok-haker Piston van Wyk is bebloed van die veld af nadat hy getrap, geskop en gemaal is. Syd Nomis het ʼn paar van sy voortande verloor toe hy met ʼn Wes-Randse wasgoeddraad deur Fergie McCormick byna onthoof is en die All Blacks het met 9-8 gewen.

In die derde toets het die Bokke wraak geneem en met 14-3 geseëvier.

En toe volg die beslissende vierde toets op Ellispark.

ʼn Paar dae voor die toets ná ʼn wedstryd teen die SA Gaselle in Potchefstroom, het die All Blacks ontspoor. Nie óp die veld nie, maar van die veld af.

Wylie en ʼn spanmaat Alister Hopkinson het grappendergewys, of so het hulle gedink, die afrigter, Ivan Vodanovich, in die hotel-foyer gepootjie. Vodanovich het gesig eerste deur die oop voordeur geskuif. Hy was briesend en sy eerste woorde was: “Geen speler van Canterbury Saterdag in die span nie.”

Toe die span aangekondig is, kon die Nieu-Seelandse joernaliste dit nie glo nie.

Volgens die McLook Collection is die bestuurder, Ron Burk, wat die span uitgelees het, gevra om die regte span aan te kondig.

“Behoede ons,” het die media gesê nadat Wylie en sy Canterbury-spanmaats almal gepos is.

Lister was een van die spelers wat weer nader getrek is.

Ook het Hopkinson verdere olie op die vuur gegooi toe hy in die spanbus op pad Ellispark toe onder groot gelag gevra het: “Sal al die Canterbury-spelers wat vandag speel, asseblief opstaan?”

En toe lag die Bokke die laaste en wen die toets met 20-17.

Dis hoekom ons Lister onthou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Mike Kaapstad ·

Onthou so iets saam met my Ma na die game geluister op n draadloos…………

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.