Het Bob Deans ʼn drie gedruk?

Maar dalk is dit die regte tyd om van nou af teen beamptes op te tree wat blapse begaan, want spelers word gepos as hulle droog maak.

Newman, wat sedert 2003 ʼn skeidsregter is, het Saterdag in die Sesnasiestoets tussen Engeland en Wallis op Twickenham verkeerdelik beslis dat die Walliese heelagter, Gareth Anscombe, nie ʼn drie gedruk het nie nadat die beslissing na hom verwys is.

Engeland het voortgegaan en die toets met 12-6 gewen, maar die momentum kon in Wallis se guns geswaai het en wie weet, dalk kon die Rooi Drake vir Eddie Jones van sy troontjie gestamp het.

Die Walliese afrigter, Warren Gatland, het die beslissing ná die toets kras veroordeel (hy was reg, maar gaan daar teen hom opgetree word, soos teen ander afrigters wat dit ook durf waag het om te kritiseer?).

Wêreldrugby het nou in ʼn verklaring gesê dat Newman verkeerd was, en dat die drie wettig was.

Wat onverstaanbaar is, is dat die voorval ʼn hele paar keer op televisie gewys is en dit was duidelik dat Anscombe ná ʼn skop van Walliese losskakel Rhys Patchell sy hand voor dié van die Engelse senter Anthony Watson by die bal gekry het.

Maar wat van vorige blapse deur skeidsregters soos Wayne Barnes, Wayne Erickson, Paul Honiss, Bryce Lawrence, Steve Walsh, Romain Poite en Dave McHugh? Word dit nie net onder die mat gevee nie?

♦  Swak skeidsregterbeslissings is so oud soos die berge. In 1905 was die All Blacks op die randjie van ʼn Grand Slam nadat hulle Skotland (12-7), Ierland (15-0) en Engeland (15-0) geklop het. Hulle was onoorwonne in 27 wedstryde en op die randjie van rugbygeskiedenis.

Maar toe volg die toets teen Wallis in Cardiff.

Die Walliese linkervleuel, Teddy Morgan, het die openingsdrie gedruk waarop die All Black-senter Bob Deans geantwoord het. Deans is kort voor die doellyn deur Morgan en Rhys Gabe beetgekry nadat hy nader pale toe gehardloop het om die doelskop makliker te maak. Volgens die wedstrydverslae was dit ʼn drie, en al 47 000 toeskouers het ook so gedink.

Maar toe trek die twee Walliesers Deans (hy was ʼn oom van die oud-All Blackspeler en -afrigter Robbie Deans) terug speelveld toe. Nadat die Skotse skeidsregter John Dallas, sowat 30 meter van die spel af, uitasem by die doellyn uitgekom het, het hy beslis dat die bal kort gedruk was.

Wallis het voortgegaan en die All Blacks met 3-0 geklop.

Deans was woedend en bitter en het ʼn telegram aan die Daily Mail gestuur waarin hy bevestig het dat hy die drie gedruk het. Maar Deans, 24, is sonder dat hy sy storie kan staaf graf toe nadat hy kort ná die toer aan die komplikasies van ʼn blindederm-operasie oorlede is.

In 1924, toe die All Blacks weer deur Brittanje getoer het, het Morgan een van die All Blacks gevra om ʼn banket-spyskaart, ter ere van die toerspan, terug te neem Nieu-Seeland toe en aan sy All Black-vriend Billy Wallace (hy was ook in 1905 se toerspan) te oorhandig.

Dié spyskaart is eers 100 jaar later tussen die besittings van die destydse bestuurder, George Dixon, in ʼn trommel in ʼn oorlogsmuseum in Auckland gevind.

Agterop was die woorde: “Aan Billy Wallace van Teddy Morgan. Deans het in Cardiff 1905 ʼn drie gedruk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.