Het die All Blacks dan nie by die Bokke geleer nie?

Die belangrikheid van die All Blacks se oorwinning in Saterdag se toetswedstryd in die Rugbykampioenskap op Loftus Versfeld begin nou werklik weerklank vind.

Die All Blacks het met 32-30 deurgeskraap en steeds hul eerste posisie op die wêreldranglys behou, maar hul neerlaag van 32-34 teen die Bokke in Wellington twee weke vantevore, kan hulle nog aan die hakskeen byt en daartoe lei dat hulle hul eerste posisie op Wêreldrugby se ranglys aan Ierland kan afstaan.

Is dit blote wensdenkery?

Nee, dis die Nieu-Seelanders self wat so dink, want die All Blacks se oënskynlike gebreke is oopgevlek en hul planne vir die Jaareindtoer sal beslis rimpelings laat onstaan.

Die All Blacks speel op 27 Oktober in Tokio teen die Wallabies in ʼn niksseggende Bledisloe-toetswedstryd en die week daarna teen Japan, ook in Tokio.

G’n probleem nie, behalwe dat die All Blacks 32 spelers vir dié “toer” kies, maar 19 van hul topspelers voor die Wallabies-toets vooruit na Engeland stuur om voor te berei vir die drie toetswedstryde teen Engeland (11 November), Ierland (18 November) en Italië (25 November).

Negentien ander spelers sal dan na Tokio gestuur word om teen die Wallabies en Japan te speel. Dit kan lelik boemerang, want hoe swak die Wallabies ook al mag wees, bly dit ʼn waagstuk.

Die toerspan wat in Japan was, sal dan weer verander, want slegs ʼn paar spelers reis na Engeland.

As die All Blacks teen Engeland en Ierland verloor, kan hulle deur die Iere op die ranglys verbygesteek word. Die Iere speel vooraf teen Argentinië en Italië en behoort albei wedstryde te wen.

Dit kan ook beteken dat die All Blacks-keurders ʼn belaglike 51 spelers vir vyf toetswedstryde sal kies. Dit herinner mosal hoe meer aan die blaps wat die Suid-Afrikaanse rugbybase gemaak het vir die geldmaaktoetswedstryd op 2 Junie in Washington teen Wallis. Nie net is Springbokkleure onnodig uitgedeel nie, maar die Bokke het boonop slae gekry.

Ek dink die tradisionele Nieu-Seelandse ondersteuner verstik in sy graanvlokkies en dink met heimwee terug aan die eerste Nieu-Seelandse toerspan wat in 1905 die eerste keer buite Australasië getoer het. Daar was net 25 spelers op toer, een bestuurder en een afrigter. Nog twee spelers het hulle later by die span aangesluit.

Dié bootreis aan boord van die SS Rimutaka na Southampton het, volgens die Nieu-Seelandse rugbymuseum, 42 dae geduur en die span was vir 150 dae in Europa en in Amerika, waar hulle net een van hul 35 wedstryde verloor het.

Die span het 976 punte aangeteken en net 59 afgestaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Albert ·

Die wereld ranglys is n klug want hoe kan n span wat solank wereld rugby oorheers met drie verlore nie meer no I span wees nie. Die AB is die span wat die konstantste van almal is dus is hy die beste. Gaan kyk oor die laaste drie jaar wat is sy verhouding met wedstryde wat hy gespeel het en teen wie en hoeveel keer hy verloor het teenoor die ander lande se geskiedenis. Die AB se diepte van spelers sal hul nogsteeds dra deur hierdie toere, want van hul derde span spelers sal enige tyd in ander lande se opdraf spanne speel.

All Black ·

Albert ek stem saam met jou. Die vraag moet eerder wees ” Wil die Bokke nie by die All Black leer nie?”

Anoniem ·

Laat hulle doen wat hulle dink reg is, hulle het al gearriveer en sal tog nie luister nie want hulle weet ALS ! Al waarna ons uitsien is die terugbring van die Webb-Ellis trofee (2019) na Bokland toe ! Ons BID en VERTROU dat dit gaan gebeur ??en ons GLO so ! Dankie Jesus vir wonderlike spelers met baie talent ! ??

Swartwolf ·

Bokke en bestuur het net een les om te leer by die All Blacks en dit is om die beste beskikbare span op meriete op die veld te kry die res sal van self gebeur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.