Het foefietruie ʼn uitwerking op die spelpeil?

Die Bulls se geel trui vir wegwedstryde. (Foto: Bulls)

Die geel foefietruie waarin die Bulls hul wegwedstryde speel, en tot dusver verloor het, sit mos darem nie in ʼn bloubloed ondersteuner se klere nie.

Waarom op aarde Mamelodi Sundowns en sokker by ʼn rugbysaak insleep, is die kriewelrige vraag. Die Bulls is mos die Bulls, en daarmee basta!

Hoe word dit met die ingeburgerde krete van “ons bloed is blou” of “nou die Blou” versoen? Kortom, hoe spoor ʼn mens só ʼn span van die pawiljoen af aan?

Net soos met verlede jaar se rooi “Springbok”-trui in Argentinië is die kans skraal dat die betrokke rugbyadministrateurs hierdie praktyk (die bittereinderondersteuner sal eerder meen dis ʼn wanpraktyk) maklik vergewe sal word.

Maar hoe belangrik is die bepaalde kleur of voorkoms van ʼn trui werklik op die rugbyveld?

Die Britse Leeus wat in 1930 deur Nieu-Seeland getoer het, het vlootblou truie gedra, wat op die destydse swart en wit rolprente nie van die All Blacks s’n onderskei kon word nie.

Destyds was die praktyk dat die tuisspan in so ʼn geval in wit truie speel, maar die Nieu-Seelanders was allermins daarmee gediend.

Die blou Leeutruie is al sedert 1910 se Suid-Afrikaanse toer gedra, toe dit blykbaar gebruik is omdat die meeste spanlede destyds Skotte was.

Die wit All Blacks van 1930 in aksie teen die Britse Leeus. (Foto: NZ Rugby Museum)

Vir die Kiwi’s het dίt nie saak gemaak nie. Nieu-Seeland het, om die Engelse idioom anglisisties as kwinkslag te waag, “blou moord geskree”.

Reeds 42 jaar lank het die All Blacks in swart gespeel. Hulle het dié kleur hul eie gemaak – en elke ander rugbyspelende land het dit geweet, is geredeneer. Die span word mos nie verniet die All Blacks genoem nie.

Die Leeus is selfs van moedswilligheid beskuldig in die keuse van vlootblou; hulle sou dan glo aspris dié kleur gekies het om die All Blacks om te krap.

Die Britte het egter voet by stuk gehou, en Nieu-Seeland moes op die nippertjie bes gee. Die Silwervaring-embleem is glo sommer so van die swart truie af uitgeknip en op die gewraakte wittes vasgewerk.

En, word ons vertel, ná afloop van die toetsreeks het die Nieu-Seelandse spelers daarop aangedring om ook swárt truie te ontvang – hulle was mos darem All Blacks.

Die Leeus wat in 1938 in Suid-Afrika getoer het, was die laaste om die blou trui te dra. Toe die volgende Leeuspan in 1950 Nieu-Seeland toe is, was die trui rooi, soos ons dit vandag nog ken.

Die All Blacks het hul saak tuisgebring.

Vandag nog, 130 jaar nadat die eerste All Blacks deur Brittanje getoer het, word daar nie ligtelik met die wêreld se beste rugbyspan se trui gepeuter nie.

Ook nie met die Leeus se rooie nie.

Dis egter nie net die trui wat saak maak nie.

Die Springbokke van 1960 speel met swart broeke teen Skotland . (Foto: Bidorbuy)

Die Springbokke het sedert 1937 se roemryke Nieu-Seelandse toer in wit broeke gespeel. Tot met die Wallabies se besoek in 1933 was die broeke swart.

Toe, in die enkele toets teen Skotland op sy kort Suid-Afrikaanse toer in 1960, het die Bokke weer swart broeke gedra.

Die beroemde Boksenter John Gainsford het sy buiging vir Suid-Afrika in dié toets gemaak, en was bitter teleurgestel in die swart broek. Dit het hom nie soos ʼn Springbok laat voel nie, het hy gesê.

Eers in sy tweede toets toe die Bokke die All Blacks ʼn paar maande later in wit broeke aangedurf het, het hy gevoel hy is ʼn Bok.

Kan ʼn speler wat nie soos ʼn Bok voel nie soos een speel? Was Gainsford ál een wat daardie dag in Port Elizabeth só gevoel het, of hoekom kon slegs ses lede van dié toetsvyftiental skaars twee maande later in die reeks teen die All Blacks plek kry?

Die emosie wat gepaard gaan met die oor die kop trek van ʼn bepaalde beroemde rugbytrui is wyd gedokumenteer.

Foefietruie het slegs een doel – om geld te maak deur dit aan versamelaars en ondersteuners te verkoop, ongeag die emosie en motivering, of gebrek daaraan, wat dit by die speler-draer opwek.

Vergoed dié beperkte korttermynwins werklik vir die prysgawe van die aansporing wat die dra van ʼn legendariese trui potensieel inhou?

Is daar nie dalk iewers ʼn student van die sielkunde wat die rol van ʼn truitradisie as motivering vir rugbyspelers wil ondersoek, en die waarde daarvan (of die teendeel) wil bepaal nie?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Robert ·

Pieter,
Jou klere gaan nie maak of jy sleg of goed speel nie. Net so behoort ‘n ander kar as jou eie nie verskil te maak hoe jy ry nie. As jy fiks is en psigies reg is speel jy reg.

Erick ·

In die eerste helfte het die geel truie gehelp om die Bulle oemf te gee, maar in die tweede helfte het die geel truie heeltemal te swaar geraak!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.