Het gestroopte Suide `n kans met Junietoere?

Springboks logoDie drie grotes van die Suidelike Halfrond kan in Junie die dure prys betaal van spelerskaste wat gestroop is en `n Superreeks wat maande land strek.

Daar kan dus in Junie rugbygeskiedenis gemaak kan word wanneer Engeland, Ierland en Wallis in reekse van drie toetse elk teen die grotes van wêreldrugby speel.

As daar na die rekordboeke gekyk word, is die kans skraal. Maar soos hulle sê,  rekords is daar om geslaan te word.

Die Iere toer in Suid-Afrika, Wallis pak die All Blacks en Engeland kom teen die Wallabies te staan.

Die Iere en Wallis is nog segeloos ná sewe wegtoetse elk onderskeidelik teen die Bokke en die All Blacks.

Engeland het darem al drie van sy 17 wegtoetse teen die Wallabies gewen, die laaste keer met 21-20 in 2010 in Sydney.

Kan dit vanjaar gebeur? Gewis.

Engeland het die beste kans, want onder Eddie Jones het die Rose groot vordering getoon. Jones het raakgevat met sy kaptein, Dylan Hartley (al het baie kenners van hom verskil) en sy bestendige spankeuse en spelpatroon dwing baie gesag af.

Jones het nie die wiel herontdek nie, hy volg `n basiese patroon met vurige voorspelers wat oorheers; sy agterste driehoek is gevaarlik en hy gaan ‘n binnsenter (Manu Tuilagi) kies wat alles voor hom sal platloop. Boonop korrel Owen Farrell raak.

Grootmond Eddie het ná sy Grand Slam-oorwinning oor die Franse gesê hy wil skoonskip  teen die Wallabies maak, want dan sal hy “`n week lank in Australië kan agterbly en pronk”. Jones wil Engeland binne drie tot vier jaar die beste span ter wêreld maak. Hy kan dit doen, al hou niemand van die Engelse nie.

Daar is ook baie diepte in Engelse rugby en al is daar ‘n paar beserings, sal die span sy man kan staan. Boonop sal Jones op die liddorings van die Wallaby-afrigter, Michael Cheika, trap en daar sal groot vuurwerk wees.

Wallis sien kans vir die All Blacks, maar soos in die verlede sal beserings en spelersdiepte sy groot problem wees. Wallis het in 30 toetse nog net drie keer met die All Blacks afgereken, in 1905 (3-0), 1935 (13-12) en in 1953 (13-8) – al drie keer  in Wallis.

Die Iere, wat in sewe wegtoese teen die Bokke net 80 punte kon aanteken teenoor die Bokke se 186,  kan dalk `n toets teen die Bokke wen. Dit is – sonder om arrogant te wees – as die Bokke `n insinking beleef.

Die Iere sal ook beseringsvry moet bly en Jonny Sexton sal op stryk moet wees. Die tweestryd tussen CJ Stander en die Bokke se losvoorspelers gaan iets yslik wees.

En die Bokke? Daar is sterk gerugte dat die nuwe Bok-afrigter (Allister Coetzee moet nog aangewys word), gaan verras met sy spankeuse. Daar sal glo `n sterk Kaapse en Durbanse geur aan die span wees en die groot vraag is hoeveel oorsese Bokke gekies sal word.

Coetzee sal net twee maande hê om die Bokke te slyp, maar hoe moeilik kan dit wees?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.