Het Munster die boerpot met Chris Cloete geslaan?

Chris Cloete (Foto: André Meintjes/Steval Pumas)

Chris Cloete is een van die trekvoëls van rugby, want waar hy ook al gaan, word sy talente nie na behore geskat nie – of só kom dit altans voor.

Cloete (26), wat in 2009 vir die SA Skolespan gespeel het nadat hy as leerder aan Selborne College in Oos Londen twee jaar lank Grens se Cravenweekspan verteenwoordig het, het ná sy skoolloopbaan draaie by die Sharks, Westelike Provinsie (twee keer), Southern Kings, Pumas en selfs in Sri Lanka gemaak.

Dalk het hy nou rustigheid by Munster in Ierland gevind, waar hy hom in die eerste jaar van ʼn kontrak van drie jaar bevind.

Cloete (1,75 m en 98 kg) word sekerlik deur baie afrigters as te klein beskou, soos CJ Stander, Heinrich Brüssow, Deon Stegmann voor hom en jare gelede ook Boland Coetzee in kringe bokant die Vaalrivier.

Dié baljagters is almal soos lastige vlieë om ʼn kostafel. Jy klap hom weg, maar oor ʼn paar sekondes is hy terug om jou verder te irriteer… en hier gaan ons alweer.

Ja, hulle staan strafskoppe af en kan wandelende geelkaarte wees, maar as dit nie gebeur nie, dan doen hulle mos nie hul werk behoorlik nie.

Maar hulle moet weet waar om die streep te trek, en dalk kry Munster se afrigter, Johann van Graan, dit reg om die regte saadjie te plant.

Cloete is baie keer ook die middelpunt van relletjies, want hy dien as weerligafleier; hy is daar om die ander spanne te frustreer.

Cloete, saam met Stander (1,85 m) en Peter Mahony (1,91 m) vul mekaar uitstekend by Munster aan, hoewel nie een van hulle juis lank is nie.

Waar Cloete as baljagter woel, slaan Stander die bresse van eerste en tweede fase af en vervul O’Mahony, wat die kaptein van die Britse en Ierse Leeus-toerspan in verlede jaar se eerste toets teen die All Blacks was, die primêre take van ʼn losvoorspeler.

♦  Waarvoor kan ʼn afrigter meer vra as ʼn tuiswedstryd op Thomond Park in Limerick teen Toulon in die kwarteindronde van die Kampioenebekerreeks nadat Munster Sondag ʼn wegholoorwinning van 48-3 oor Castres behaal het?

Onthou gerus ook dat die veld oorstoom was en die wedstryd met drie uur uitgestel moes word, maar dit het Munster nie verhinder om hardlooprugby te speel nie.

♦  Die bepalings vir die kwarteindronde van die Kampioenebekerreeks (tussen 29 Maart en 1 April) is:

Leinster vs Saracens; Scarlets vs La Rochelle; Munster vs Toulon; Clermont Auvergne vs Racing92.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.