Het Rassie iets uit die Baabaas se sege teen Engeland geleer?

Chris Ashton duik oor vir een van sy drie drieë (Foto: Twitter @Barbarian FC)

Hoeveel Rassie Erasmus sou wys word as hy Sondagmiddag na die wedstryd tussen Engeland en die Britse Barbarians gekyk het, kan ʼn mens net oor raai.

Dit was nou wel nie Engeland se uitsoekspan nie, want ʼn hele aantal van hul sleutelspelers was betrokke by die Premierliga se eindronde tussen die Exeter Chiefs en Saracens en nog ʼn paar is ʼn ruskans gegun.

Boonop kan ʼn mens kwalik ʼn behoorlike oordeel vel oor ʼn wedstryd waar daar 15 drieë gedruk is. Tog was daar aanduidings dat alles nie pluis by Engeland is nie.

Die Barbarians het met 63-45 gewen en nege doele teenoor ses doele en ʼn strafdoel aangeteken. Chris Ashton, wat nou  sy rugby in Frankryk speel en dus nie vir Engeland oorweeg is nie, het drie van die drieë gedruk.

Wat wel duidelik was, is dat die Engelse op die aanval én verdediging gesukkel het om mekaar te vind. Dis seker verstaanbaar in ʼn eerste oefenlopie.

Ietwat ernstiger is dat Engeland heelwat minder besit as die Baabaas gehad het, wat grootliks toegeskryf kan word aan die gesukkel by die afbreekpunte. Dit was een van hul vernaamste tekortkominge in vanjaar se Sesnasiesreeks en dit lyk of dit steeds vir Engeland se afrigter Eddie Jones ʼn kopseer is.

Ook wat die verdediging betref, lyk dit of daar vir Jones heelwat werk voorlê. Engeland se vrot duikwerk kan seker nog verskoon word omdat die vrees vir beserings seker voor die toer na Suid-Afrika in van die spelers se agterkoppe is.

Daar was egter ook ooglopende leemtes wat betref hul verdedigingstruktuur waaraan oor die volgende twee weke voor die toets gewerk sal moet word.

Puntemakers ‒

Engeland (28) 45 – Drieë: Elliot Daly, Piers Francis (2), Zach Mercer, Joe Launchbury, Jonny May. Doelskoppe: George Ford (6). Strafdoel: Ford.
Barbarians (35) 63 – Drieë: Chris Ashton (3), Victor Vito (2), Finn Russell, Semi Radradra, Sitaleki Timani, Greig Laidlaw. Doelskoppe: Russell (7), Laidlaw, Juan Martin, Fernandez Lobbe.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.