Heyneke Meyer verduidelik oor Kirchner

zane kirchner springbok

Heyneke Meyer se keuse om Zane Kirchner op heelagter in te sluit in die Springbokspan wat Saterdag in Brisbane teen die Australiërs speel, lok heelwat kommentaar uit.

Die grootste kritiek kom oor die feit dat Kirchner nie toetsfiks is nie. Die Blou Bul-heelagter het sedert November 2012 nie in ‘n Internasionale wedstryd gespeel nie. Sy handbesering het hom ook gedurende die Superrugbytoernooi sleg gepootjie.

Meyer het aan joernaliste verduidelik dat Willie le Roux se skuif na die vleuelposisie ‘n taktiese skuif is.

Le Roux het al vyf die toetse hierdie seisoen op heelagter begin en hy stook graag die vuur van agter af, maar sy nemesis is die taktiese skoppe. Patrick Lambie doen goeie diens, maar hy sukkel soms om met taktiese skoppe voldoende afstand te bereik. Dit mag dus Meyer se idee wees dat Kirchner se kanonskoppe die Bokke op die voorvoet sal hou, veral om die uiters beweeglike en aanvallende agterlyn van die Wallabies meer te laat omdraai.

Meyer het Woensdag op ‘n mediabyeenkoms verduidelik dat Kirchner se insluiting glad nie so konserwatief is as wat daar gedink word nie.

“Hy is ‘n speler van gehalte en die persepsie dat hy konserwatief is, is nie reg nie,” het die Bokbreier gesê.

“Gaan kyk maar na sy vertoning vir die Bulle in die Superrugbyreeks. Hy was die hele tyd tussen die top driedrukkers en hy is ook op heelagter gekies toe ons die Wallabies op Loftus Versfeld geklop het. Ons het daardie toets met vyf drieë gewen en sy aandeel op die aanval was onvervangbaar.”

“Bjorn Basson se polsgewrig pla nog en ons het besluit om Willie in sy posisie in te sluit. Willie het vrye teuels om op vleuel sy natuurlike spel te speel. Ek is vol vertroue dat ons die regte agterste driehoekkombinasie het vir hierdie wedstryd teen die Wallabies. Zane se aanvalle met bal in die hand sal ‘n belangrike rol speel.”

Die Bokke se wedstrydplan sal gereeld aangepas word soos wat die omstandighede op die veld ontwikkel, “want toetsrugby is nooit so eenvoudig nie,” het Meyer gesê.

Die Wallabies se agterlyn kan groot probleme vir die Bokke inhou. Ewen McKenzie het ‘n baie sterk, aanvallende agterlyn gekies en iemand soos Israel Folau is briljant met teenaanvalle. Nick Cummins is ook ʼn baie onderskatte en fisieke speler.

“Die Australiërs gaan ons laat werk vir die bal. Ons sal die spel goed moet lees en bedag wees daarop dat hulle baie afwisseling in speltempo en posisionering gaan inbring,” het Meyer gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.