Hiëna-broederskap trek Gemsbokke plat

heilbronDie met broers besaaide span van Heilbron het Saterdag Bethlehem-oudskoliere II se Gemsbokke in die Griffons-Oosliga platgetrek.

Annari Combrink, die sekretaresse van Heilbron, laat weet die Hiënas het die naelbytstryd op die veld van die Hoërskool Heilbron 19-17 gewen.

Elkeen van die spanne het drie drieë gedruk, maar die Hiënas het twee verdoel waar die Gemsbokke net met een doelskop kon slaag.

Combrink sê André Broodryk (linkervleuel), Regert Pienaar (agsteman) en Johan Viljoen (regtervleuel) het vir die Hiënas se drieë gesorg en die heelagter, Bees Claassen, het die doelskoppe behartig.

Claassen is as die speler van die wedstryd aangewys. Hy het regdeur briljante aanvalle van stapel laat loop, en meer as een keer onder groot druk koelkop gebly en deurdagte besluite geneem wanneer die besoekers aan die doellyn geraak-raak het.

Die tuisspan se skrumskakel, Jay-Jay de Lange, het `n puik vertoning gelewer en sy teenstander min beweegruimte agter Oudleerlinge se aanvallende skrums gegun.

Burger Combrink, die afrigter van die Hiënas, is tevrede met die span se vertoning is, maar waarsku dat harde werk en toewyding voor lê.

“Ons volgende wedstryd is teen Reitz en as ons enigsins ‘n faktor in die wedstryd wil wees, sal daar nie plek vir foute wees nie,” het hy na afloop van die wedstryd teen Oudskoliere gesê.

Die Heilbronners het in Saterdag se wedstryd geskiedenis gemaak toe drie broers, Bees, Kokhi en Eben Claassen, `n ruk lank saam vir die Hiënas gespeel het.

Hulle was boonop nie die enigste broers wat saam-saam die Hiënas verteenwoordig het nie – daar is nog sewe pare broers in die Hiëna-trop. Hulle is André en Pieter Broodryk, Alzan en Danie Myburgh, Gerrit en Johan Viljoen, Chris en Ruan Volschenk, Wallace en Ernst Piater, André en Francois du Toit, en Jacques en Rikus van Rooyen.

bethlehem oudskoliere“Dit is `n voorreg en `n unieke eienskap van plattelandse sportverenigings. Ouboet en kleinboet moet langs mekaar in die skrum sak óf saam na die doellyn nael. Dít maak die vertroue wat ons in mekaar het eenvoudig soveel sterker,” het Combrink (die afrigter) gesê.

Heilbron speel komende Saterdag in `n wegwedstryd teen Reitz.

♦ Hettie Nieuwenhuizen, die sekretaresse van Oudskoliere, sê Stephan Schoeman, Raymendt Smit en Amos Mofokeng het die span se drieë teen Heilbron gedruk. Die een doelskop is deur Pieter Reynecke oorgeskop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.