Hier gaan ons al weer met die Bokkaptein

Duane Vermeulen – kandidaat om die Bokke te lei.

Dis ʼn jaar later. Die Bokke se vertonings het ons verlede jaar erg sooibrand gegee, Allister Coetzee is steeds die Bok-afrigter, daar is darem ʼn beleid oor die kies van spelers wat oorsee speel, maar ons is weer in die duister oor die Bokkaptein.

Coetzee het verlede seisoen met Adriaan Strauss volhard, hoewel hy geweet het dat die Bok-haker se internasionale loopbaan ná die jaareindtoer verby sou wees.

Dit behoort nie die keer ʼn moeilike keuse te wees nie: of Warren Whiteley of Duane Vermeulen.

Siya Kolisi  was voor die Stormers se Nieu-Seelandse toer ook in die binnebaan, maar hy het uitgesak.

Die Springbokspan wat die Franse in Junie in drie toetse pak, word ná die Bok-oefenkamp, wat tussen 21 en 23 Mei in Johannesburg gehou word, aangewys.

As ek ʼn voëltjie reg hoor fluit, gaan Whiteley die kaptein vir die drie toetse teen die Franse wees en as die Bokke nie die mas opkom nie, deur Vermeulen as kaptein in die Rugbykampioenskap vervang word.

Dit beteken dat Whiteley die agtsteman teen die Franse sal wees, met Vermeulen wat op nr-7-flank ingespan sal word.

Vermeulen, wat ook Toulon se kaptein is, se span is betrokke by die uitspeelwedstryde van die Franse Top14-liga. Toulon speel dié naweek in die kwarteindstryd teen Castres en as hy deurdring, die volgende naweek in die halfeindronde teen of Clermont of La Rochelle.

Die eindstryd van die Top14-reeks vind eers op 4 Junie (Sondagaand om 18:30) plaas. Dit beteken dat die spelers (ook die Franse wat vir toer gekies sal word) eers op die vroegste die Maandagaand, met seer lywe, en slegs  ses dae voor die eerste toets in Suid-Afrika sal aankom.

Afgesien van Vermeulen, is daar sterk sprake dat Frans Steyn, Francois Hougaard, Steven Kitshoff en dalk ook Bismarck du Plessis by die Bokke betrek sal word.

Die ou debat sal dan weer opvlam. Moet jy nie eerder plaaslike spelers beloon wat lojaal is en hul lywe weekliks in die Superreeks op die spel plaas nie?

Ook wat die Bok-kapteinskap betref.

Ek dink so.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Nico K ·

Ek het geen probleem op buitelandse spelers te kies nie. Dit sal onnosel wees nie die beste spelers te kies nie. Maar Ek dink Duane Vermeulen is nie meer wat hy was nie. Op sy beste was hy ‘n groot voordeel vir enige span, maar die laaste toetse wat hy vir die Sprinbokke gespeel het, was sy werkverrigting te min. Dieselfde vir Bismarck.

Kollie ·

Van daai oorsese spelers wat genoem word, kan slegs Vermeulen ‘n merkbare verskil maak as hy op sy beste is.

Daan v ·

Kruger is heeltemal reg! Manne soos Whiteley wat lojaal bly en rugby vir ons hier tuis ‘n fees maak, moet in aanmerking kom vir Bokkaptein. Die geldjagters wat hulle gô uitspeel oorsee en dan hier kom “aansterk” in die SA son het geen reg op kapteinskap nie. Hoogstens in die span ingesluit word, maar sodra die vodde wys, moet hulle uit! Hier is puik individuele spelers selfs in die swakker spanne. Ai, die keurders darem …

Cjan ·

Wat kan die Buiteland se spelers nog beteken vir die volgende wereldbeker? Teen daardie tyd is Duane en Bismarck al oupas. Allister kry dit in jou Grootkop om die plaaslike spelers te kies en vergeet van die ander. Kom net by asublief Albaster!!!

zahn ·

Ek sal weer rugby kyk as hulle van die afrigter ontslae raak. Die man het nie ‘n idee wat aangaan nie, en is net so dikvellig as zuma. Bismarck? Hy het gesink twee weke na die skip na wie hy vernoem is?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.