Hier in SA weet die Bulle nie van verloor af nie

Zak Burger laat die bal na Johan Goosen loop (Foto: GB Jordaan)

Die Blou Bulle het vandag vir die Goue Leeus in ’n aanskoulike Curriebeker-wedstryd op Loftus Versfeld met 40-21 geklop.

Ja, die woord “aanskoulik” word nie altyd gebruik om ’n Suid-Afrikaanse rugbywedstryd te beskryf nie, maar al twee spanne het nie geskroom om met die bal te hardloop nie en ’n paar bobaas drieë is in die proses gedruk.

Die Pretorianers het lekker rugby gespeel en hul flinke spel het uiteindelik vir ses drieë gesorg. Daardie nederlaag teen Benetton is eintlik tot dusver die enigste groot klad op hul naam. Verder bars hul trofeekas uit sy nate, terwyl hulle verlede week met ’n SA A-span klaargespeel het.

Johan Goosen het weereens in die nommertientrui gewys dat hy pure Bok is. Sy stelskopwerk was akkuraat, hy was sterk op die aanval en verdediging, terwyl sy verstommende oor-die-kop-aangee ’n hengse rol in David Kriel se drie gespeel het. Goeiste, selfs wanneer hy ’n aangee misgevang het, het die bal agtertoe gespat.

Foto: GB Jordaan

Die 28-jarige speler is bestendig én kreatief en kan die nodige vonk verskaf sodat die Springbokke sommer ’n spontane Plan B op die veld beraam.

Daarteenoor het die Leeus ook glad nie slegte rugby gespeel nie. Hul skrums was sterk, terwyl Courtnall Skosan se pragdrie een van die jaar se hoogtepunte is.

Wandisile Simelane het die bal aan die rol op die Johannesburgers se doellyn gesit, waarna Vincent Tshituka sy ore platgetrek het en later vir Skosan met ’n briljante Sonny Bill Williams-aangee weggestuur het.

Die Bulle was doodeenvoudig net vandag beter. Hier (in Suid-Afrika, altans) weet hulle duidelik nie van verloor af nie.

  • Puntemakers:

Blou Bulle: Drieë: Zak Burger (2), Harold Vorster, Johan Grobbelaar, Richard Kriel en David Kriel. Doelskoppe: Johan Goosen (5).

Goue Leeus: Drieë: Vincent Tshituka, Courtnall Skosan en Sti Sithole. Doelskoppe: Jordan Hendrikse (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

SjN ·

Laat die Bulle in die plek van die Bokke teen die Britse Leeus speel, ten minste skop hul nie elke bal weg nie en het n wen kultuur.

Moedeloos ·

Jammer vir jou maar die Goue Leeus is nie die Britse Leeus nie. Totaal n ander game.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.