“Hier volg die Springbokspan …”

Gerhard Viviers, ‘n legende as rugbykommentator
(Foto Youtube)

Dit was een van die hoogtepunte van die jaar, die aankondiging van die Springbokspan.

Donkiejare gelede is die span voor honderde opgewonde ondersteuners op die stoep van ʼn Kaapse hotel uitgelees. Die ondersteuners het ure lank gewag, soms in die reën en koue, maar dit was die moeite werd.

Jare later is dit soms op onthale ná ʼn belangrike Curriebekerwedstryd of weeklange proewe aangekondig.

Wanneer dit op Loftus Versfeld was, was daar groot toejuiging wanneer ʼn Noord-Transvaler se naam uitgelees is. Net so op Ellispark en sekerlik ook Nuweland.

Daar was altyd ʼn skok of twee en wanneer ʼn jongeling, ʼn ongewilde of relatiewe onbekende speler se naam uitgelees is. Dan is daar dadelik na mekaar toe gedraai en gevra: “Wie?”

Die volgende stelling het dadelik gevolg: “Dit moet Dok (Dr. Danie Craven, die oud Rugbyraad-president) se Matie-witbroodjie wees.”

In 1981 was die Oos-Transvaalse senter Jannie Els, wat baie goed in die proewe gevaar het, “in en uit” die Bok-span.

Daar is hoog en laag gesweer dat die keurders hom wel gekies het, maar toe Dok Craven daarvan te hore gekom het, was hy briesend dat dit uitgelek het en het hy Els se insluiting glo geveto.

Die spanaankondiging is soms laataand regstreeks op die Afrikaanse radiodiens uitgesaai, waarvoor die  normale programme onderbreek is. Een aand was dit reg in die middel van ʼn simfoniekonsert vanuit die Johannesburgse stadsaal, maar rugby was koning, die volk moes gevoed word.

Oor sowat twee weke word die Bokspan vir die komende toetse teen Ierland, Frankryk, Italië en Wallis aangekondig.

Hoeveel spelers gaan toer? Ons weet nog nie.

Hoeveel spelers het hulle die afgelope paar weke in (of dalk uit) die span gespeel? Dalk niemand nie.

Dis jammer, want daar loop nie maar ʼn goue draadjie deur Suid-Afrikaanse rugby nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Lukie Carelsen ·

Wel daar is een ligpunt. Rudy Paige sal nie in die span wees nie. Niemand wil hom he nie. Nie die Blou Bulle of die Golden Lions nie. Rede: Paige is nie goed genoeg nie. Hy is een vd swakste skrumskakels in die geskiedenis van S.A. Rugby. Kom ons hoop net Allister Coetzee sien dit uiteindelik ook so. Maar dis die politieke rolspelers wat die roep het en Coetzee se salaris wat hy verdien wat blykbaar belangriker is as gesonde verstand en meriete. Rudy Paige durf NOOIT weer ‘n Boktrui aan te trek nie! Finish en klaar. (Dankie Bulls en Lions wat hulle nie steur aan kwotas nie!).

Johann ·

Seker daarvan Zuma en se SPORTS MINISTER weet voor die res van die Volk? Anper iets soos Zumpi se kabinet shake ups?

Rupert Ashford ·

Ten minste kon Dok se witbroodjies darem meestal die game speel. Sommige van vandag se verrassings egter…?

Callie ·

Soos die skrywer noem, die goue draadjie is weg. So passievol soos ek en my vriende was oor rugby, so argeloos is ons deesdae. Is SA rugby nog genoeg werd dat ons wil of kan kommentaar lewer. Glo nie, en dit moet die grootste kommer wees. Hoe kry jy die draadjie terug

MANIE ·

Ek is ook maar naar vir rugby deesdae. Kwotas en inmenging van die anc het my gelukkig genees van rugby

JosuaKeys ·

Mense julle bly kla oor kwotas ens maar daar is netsoveel wit ouens wat ook nie goed genoeg is vir die groen en goud nie en ja daar is beslis inmenging van ‘n politieke oogpunt af maar dit was die doel van die begin af om springbok rugby te verwoes juis omdat dit oorweldigend deur witmense gespeel was, die naam verdien lankal nie meer om in hoofletters geskryf te word nie, die wereld het nie eens meer nodig om ons spelers met meelbomme ens te gooi, vloek, hulle te spoeg of skel nie want ons huidige regering doen dit namens hulle en daarom glimlag die All Blacks ens want nou is daar nie meer werklike kompitiese vir hulle nie en die geld rol te lekker na hulle unies toe in en dit geld vir die res van die wereld ook.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.