Highlanders maak die agterdeur oop teen Jaguares

Argieffoto

Die Highlanders het opnuut die kaarte deurmekaar gekrap toe hulle Saterdagoggend in Dunedin die Argentynse Jaguares met 32-27 in hul Superrugbywedstryd geklop het nadat hulle rustyd met 26-13 voor was.

Die Highlanders (29) het met die vier ligapunte wat hulle ingesamel het, bo die Bulls (28) op die algehele puntelys opgeskuif terwyl die Jaguares, wat ’n bonuspunt verower het nadat hulle binne sewe punte van die Highlanders gekruip het, nou saam met die Bulls 28 punte het.

Onthou dat die Bulls volgende week op hul oorsese toer vertrek waar hulle teen die Rebels (Melbourne), Brumbies (Canberra) en Blues (Auckland) te staan kom. As hulle nie minstens een van die wedstryde wen nie, is hul kanse beduiwel om tussen die top-agt te eindig om sodoende in die uitkloprondes te speel.

Die Highlanders, wat nou die lang pad na Suid-Afrika aandurf waar hulle teen die Stormers en Lions speel, se kanse is ook op ʼn meskant gebalanseer. Klop hulle die Stormers of Lions, is hul koppe straks deur.

Die Jaguares kon die kragmeting met die Highlanders gewen het, want hulle het volgens Sanzaar se statistieke 423 meter met die bal gevorder teenoor die Highlanders se 350. Hulle het 26 van hul 95 duikslae gemis (teenoor die Highlanders se 27 van 99), maar soos gewoonlik is hulle gans te veel gestraf deur die skeidsregter, Ben O’Keeffe.

Dit het tot frustrasie gelei, maar jy maak tog jou eie bed op. Net jy gebruik nie jou arms wanneer jy verdedig nie, skrum skeef, val oor die bal in die losskrums, maak besit stadig en mik vir die skouers en boontoe wanneer jy têkkel.

Aan die positiewe kant spog die Jaguares met vernuftige spelbrekers soos Sebastian Cancelliere, Matias Moroni, Ramiro Moyano en Emiliano Bofelli.

Aan die negatiewe kant is die lont van hul voorspelers gans te kort.

Die Highlanders? Hulle is steeds sonder hul twee grootste wedstrydwenners, Ben Smith en Liam Squire (albei steeds beseer). Hulle is baie gedissiplineerd, voer die basiese beginsels goed uit en Sio Tomkinson, Josh Ioane en Aaron Smith is gevaarlik agterlangs. Maar voorlangs kan hulle nie saam met groot honde draf nie.

Tog hou hulle steeds die agterdeur oop.

Punte: 

Highlanders 32 (26): Drieë: James Lentjes, Matt Faddes, Sio Tomkinson, Liam Coltman. Doelskoppe: Josh Ioane (3). Strafdoele: Ioane (2)

Jaguares 27 (13): Drieë: Matias Moroni, Marcos Kremer, Ramiro Moyano. Doelskoppe: Joaquin Díaz Bonilla (3). Strafdoele: Bonilla (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.