Hluhluwe voeg Bozasbeker by Stewartskild

Die Zoeloelandse kampioen, Hluhluwe, het op sy sukses van verlede jaar voortgebou deur Saterdag op Eshowe die Bozasbeker te verower.

Hy het die gasheerspan in bykomende tyd met 10-5 geklop by die rugbydag wat Eshowe al langer as 70 jaar aanbied.

Toe die klub verlede jaar die Stewartskild gewen het, het ʼn klubwoordvoerder, Ian van Lelyveld, dit aan opperste spanwerk van sowel die spelers as die bestuur toegeskryf.

“Die spelers het uit die staanspoor dit ten doel gestel om die skild te wen; die hegte band tusen die spelers, en die uiters ondersteunende en bedrywige komitee was die sleutel tot die klub se sukses.

“As ’n goed geoliede masjien gladweg loop, is daar nie haakplek nie,” het hy aan Pale Toe! gesê.

Richard van Lelyveld se 13 drieë was verlede jaar se meeste vir die klub.

Skotse uitruiling

♦ Die twee Suid-Afrikaanse klubspelers wat as deel van die Goue Beker-uitruilskema by Selkirk in Skotland gaan speel het, Clinton Wagman (vleuel) en Siphamandla Dama (stut), het pas ná ʼn suksesvolle termyn huiswaarts gekeer.

Wagman het hom as een van die klub se voorste driedrukkers gevestig.

Met 17 van sy 22 verpligtinge afgehandel, is Selkirk tans derde in Afdeling 1 van die Skotse Nasionale Liga.

Namibië

♦ Namibië se Premier- en Reserweliga begin Saterdag met Unam en Western Suburbs wat kragte meet, en die twee Rehoboth-klubs, Rehoboth en Reho Falcon, wat aanmekaarspring.

Die ander klubs in dié ligas is Wanderers, United (albei Windhoek) en Kudus (Walvisbaai).

Die eindstryde word op 4 Augustus beslis.

Die Suidliga skop eweneens Saterdag af met Keetmanshoop, Rosh Pinah, Southern Bulls (Mariental), Oranjemund en Ocean Swallows (Lüderitz) wat sake in die reeks uitspook.

Die Noord-, Wes- en Sentraalliga neem 17 Maart ʼn aanvang.

Die Noordliga bestaan uit Grootfontein, Etosha Lions, Otjiwarongo en Unam III; die Wesliga uit Vikings (Swakopmund), Walvisbaai, Erongo-rugbyakademie, Dolphins (Swakopmund); en die Sentraalliga uit Eastern Bulls (Gobabis), Vipers (Windhoek), NUST en Jaguars (Katutura).

Valke

♦ Die Valke se Peregrineliga neem op 7 April ʼn aanvang wanneer die kampioen, Vereeniging, tuis teen Boksburg speel.

Die Peregrineklubs Brakpan, Springs en East Rand United (ERU), wat ook in die Blou Bulle se oorgrens-Superliga speel, is dan natuurlik al met dié aan die gang.

Die ander klubs wat vanjaar aan die Valke se senior reeks deelneem, is NWU Vaal en Kempton Park.

Die eerste kragmeting in die Valke se Kestrelliga vind Saterdag plaas wanneer die Buffels en Edenvale Panthers mekaar op Grootvlei pak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.