Hoë Amerikaanse lof vir jong SA speler

De Wet van Niekerk. (Foto: Facebook)

ʼn Jong Suid-Afrikaner, wat vanjaar sy toetsbuiging vir Brasilië gemaak het, se spel het hoë lof in Amerika ingeoes.

Die webwerf Americas Rugby News (ARN) het De Wet van Niekerk as een van sy vyf aanspraakmakers op die toekenning as groentjie van die jaar benoem.

Dit geld al die rugbyspelende lande in die twee Amerikas.

Die 22-jarige Emiliano Bofelli van Argentinië het op die ou end met die toekenning weggestap.

Van Niekerk, ʼn produk van die Stellenbosse Rugbyakademie, het hom as tiener reeds in Brasilië gevestig, en dié land vanjaar in 12 toetse verteenwoordig – tien keer in die opdrafspan.

ARN sê hy het die krag en vermoë om op enige plek in die driekwartlyn sy kant te bring, en behoort fisiek sowel as as speler nog sterk te groei.

Van Niekerk (23) het aan die Hoërskool Hermanus en die akademie flank gespeel, maar in Brasilië agterlyn toe geskuif en uit die staanspoor die oog gevang.

Hy spog tot dusver met twee toetsdrieë.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.