Hoe gaan die belangstelling behou word?

Dis darem baie eentonig. Die seisoen is skaars by die halfpadmerk en die agt spanne wat aan die einde van Julie tot die uitspeelrondes sal deurdring, is na alle waarskynlikheid reeds bepaal.

Marmite en toebroodjiesmeer elke dag op jou toebroodjies skool toe, wat van ham en kaas?

Die Lions (28 punte), Stormers (26) en Sharks (22) se plekke is in die gesamentlike Suid-Afrikaanse afdeling byna vasgemessel. Die Bulls (10) hoop om nog  om by die die agterdeur in te glip, maar dit sal baie, baie moeilik wees.

Só ook die kans dat die Cheetahs en Southern Kings vir vuurwerk kan sorg … hulle sal die seisoen blote kanonvoer wees met die swaard van ʼn toekoms sonder Superrugby wat oor hulle hang.

In die gesamentlike Australasiese afdeling is die Crusaders (31), Chiefs (29), Hurricanes, Highlanders (18) en Brumbies (een Australiese span se plek is verskans) byna seker van hul plekke.

Dis een van die redes waarom die reeks so eentonig is, dis een van die redes waarom daar al hoe minder toeskouers na wedstryde stroom, dis een van die redes waarom Australië, en nie net Suid-Afrika nie, ook twee spanne vir aanstaande jaar se reeks moes inboet en waarom die Sunwolves (en die Kings, Force, Rebels, Reds en straks ook die Cheetahs) nie meer in die reeks hoort nie.

Vir die Australiese spanne om net 10 uit 34 wedstryde (meestal teen mekaar) te wen, is mos verregaande.

Wat kan ons wys word ná die naweek se wedstryde?

Die Stormers, wat met 29-16 deur die Lions op Nuweland geklop is, het ʼn hele paar leemtes wat verder op hul toer na Nieu-Seeland oopgevlek kan word. Ons is die afgelope paar weke laat glo dat die Stormers die beste pak het en ‘n giftige agterlyn.

Nee, die Lions se voorry, Ruan Dreyer, Malcolm Marx en Jacques van Rooyen het die veelgeroemde Frans Malherbe, Bongo Mbonambi en JC van Rensburg laat klippe kou.

Nee, die Lions se Warren Whiteley, Jaco Kriel en Ruan Ackermann was ʼn beter lovoorspelerkombinasie as Siya Kolisi, Nizaam Carr en Sikhumbuzo Notshe. Nee, die Lions se agterlyn (selfs sonder Rohan Janse van Rensburg wat vroeg beseer is) was meer ondernemend as die Stormers-jongelinge oor wie die kommentators so uitasem raak.

Ek hoop van harte dat Allister Coetzee en Brendan Venter dit raakgesien het, andersins wag daar perde teen die Franse.

Die Cheetahs?  Om met 24-0 teen die Chiefs op hul tuisveld voor te loop en dan met 27-41 te verloor, getuig van ʼn vuisvoosspan wat die tekens reg gelees het dat hulle nie meer Superrugby sal speel  nie.

Adriaan Strauss-hulle se kanse om in die uitspeelrondes te wees is sommer, baie, baie moeilik. (Foto: GB Jordaan)

Vergeet maar van die lugdruk, van die tuisveldvoordeel, dit het geen invloed op die Nieu-Seelandse spanne nie. Hulle is fikser as die Suid-Afrikaanse spanne. Die Chiefs het die Cheetahs uitoorlê en het ná 24 minute 41 punte aangeteken en net drie afgestaan. Hoe is dit moontlik?

♦  Hoekom was die paviljoene so leeg op Loftus toe die Bulls Saterdagaand teen die Jaguares gespeel het?

Draai maar die horlosie ʼn hele paar jaar terug, toe die Bulls ook gesukkel het. Dis gaan oor daai drie lettertjies: WEN.

Wie wil dan nou ook op ʼn Saterdagaand gaan rugby kyk as jou span tot dusver gewurg het, veral nadat die Stormers-Lions-wedstryd net voor dit op televisie was?

Vir die rekord, die Bulls het met 26-13 gewen en dis die week nie meer ʼn blou Maandag in Pretoria nie.

♦   Die Sharks het ʼn loslootjie gehad en die Kings het teen die Reds verloor. Genoeg gesê.

♦  Doer onder is die Crusaders steeds onoorwonne en die Hurricanes bly ook wen.

En o ja, die Rebels het die Brumbies geklop. Gaap-gaap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

MH ·

Hoe gaan die belangstelling behou word? Deur weer rugby te speel. Die eentonige, voorspelbare gemors van instorm en hopie maak het menige toeskouer (ek inkluis) lankal weggedryf van die eens aanskoulike en opwindende sport.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.