Hoe gaan die Bokspan lyk?

Moenie onnodig aan ’n span karring nie, veral nie as dit ʼn wenspan is nie.

Ek blaai terug na my rekordboeke, toe die Bokke in 1995 die Wêreldbekertoernooi gewen het.

Die Bokke het 22 jaar gelede, op Donderdag 25 Mei, in die openingswedstryd teen Australië gespeel en die Wallabies met 25-19 op Nuweland geklop.

Die span wat drie weke later in die halfeindstryd teen Frankryk in Durban gespeel het (en met 19-15 gewen het) asook in die eindstryd op 24 Junie teen die All Blacks op Ellispark, wat die Bokke in bykomende speeltyd met 15-12 beklink het, het net een of twee noodsaaklike veranderinge getoon.

Chester Williams het die geskorste Pieter Hendriks op linkervleuel  vervang (ek dink steeds Hendriks het die kortste ent van die stokkie getrek), só ook Chris Rossouw wat in James Dalton se plek haker gespeel het.

Al werklike veranderinge was Mark Andrews wat van slot af in Rudolf Straeuli (agtsteman) se plek geskuif is om plek vir die vurige Kobus Wiese as Hannes Strydom se slotmaat te maak.

Dis baie makliker om ʼn wenspan te behou, maar dit was juis een van Kitch Christie se grootste deugde: om bestendig te wees, om oop kaarte met sy spelers te speel, en om geen ooglopende agendas te hê nie.

Hoe gaan die Springbokspan lyk wat oor sowat drie weke in die reeks van drie toetse teen die Franse speel?

Wie gaan die Bokke se kaptein wees, wie geen heelagter, vleuel, senter, losskakel en skrumskakel speel? Wat van die voorry en losvoorspelerkombinasie?

Al wat seker is, is dat Eben Etzebeth en Pieter-Steph du Toit die slotte sal wees. En die res?

Die Bokke trek van Maandag af in Johannesburg vir ʼn derde oefenkamp saam, waarna die Bok-groep van 31 spelers aangewys sal word.

Moet ʼn mens baie in Allister Coetzee-hulle se keuses vir die derde oefenkamp lees? Wat van huidige peil in die Superreeks, wat van die eerste twee oefenkampe, wat van die Bokke wat oorsee speel, wat van Ruan Combrinck en Handré Pollard wat van hul beserings herstel het?

Is Dewalt Duvenhage werklik beter as Cobus Reinach en Faf de Klerk? Ja, Reinach en De Klerk verkas binnekort oorsee, maar só ook Jan Serfontein.

Dus is daar steeds nie ʼn duidelike riglyn  nie.

Aan die ander kant, ná net vier oorwinnings in 12 toetse verlede jaar, moet die snoeiskêr uitgehaal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eish ·

Makie sakie,
Wa hul speel oraaitie.
La hul lyk soos hul wil,
wa hul bly n sleg spul!

Ganie mee kykie,
wannie sleg willie wykie.
Moenie seg dis bokke,
Wa hul speel soos krokke.

Née heng man,
sort liefs n traan.
Kry nie eers n borg,
Wa vi hulle wil sorg!

Johannes van Staden ·

Wil voorkom of die bokke selfde pad volg as Spur …mense is MOEG om vlak gekyk te word !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.