Hoe gaan die nuwe sportminister die bal vang?

Wat gaan van die Wêreldbekerbod vir 2023 word?

Wat nou?

Dis dalk nie die belangrikste kabinetskuif nie, dit sal nie die Rand oor die afgrond stoot nie, maar tog sal miljoene Suid-Afrikaanse sportondersteuners, veral in rugby, asem ophou oor die aanstelling van Thembelani Nxesi as die nuwe sportminister.

Ag wat, sal menige sê, ons is darem ontslae van Fikile Mbalula, maar hoe gaan die nuwe minister die bal vang, uitgee en skop?

Wat van die Wêreldbekerbod vir 2023 wat oor ʼn paar maande op die tafel van Wêreldrugby moet wees? Ja, die sogenaamde bodboek is straks persgereed, maar gaan hy die finansiële waarborge in ʼn onstuimige ekonomie kan verskaf?

Bygesê, wanneer gaan hy die verbod op rugby, krieket, netbal en atletiek lig om internasionale sportbyeenkomste aan te bied? Die jongste verslag van dr. Willie Basson se Belangrikepersone-groep (wat ʼn belaglike naam) wat sal bepaal of dié sportsoorte genoegsaam getransformeer het, lê glo al ʼn hele rukkie by die departement van sport, maar daar is nog nie ʼn woord daaroor gerep nie.

Gaan hy in rugby se slaai krap? Wat gaan hy daarvan dink as die Southern Kings nie meer Superrugby speel nie?

Wat gaan sy gevoel wees as Allister Coetzee nie die mas opkom nie? Gaan hy ook byna R70 miljoen op ʼn sporttoekenningsaand blaas? Sal hy ook by menige Springboktoets in ʼn Springboktrui opdaag? Gaan hy ook voor in die koor staan wanneer die Blitsbokke die sewesreeks wen, of Wayde van Niekerk en Chad le Clos met goue medaljes ná wêreldbyeenkomste terugkeer?

As ek reg  onthou, was hy die eerste persoon wat maande gelede amptelik probeer wys het hoe werk die brandpoel by Nkandla, maar nie daarin geslaag het nie.

Gaan dit ook die geval in rugby wees?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Paul ·

Die enigste gepaste minister vir sport is een wat die hele ministerie vir sport toemaak. Wat het enige regering met sport uit te waai?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.