Hoe goed is die Hurricanes sonder Beauden Barrett?

Beauden Barrett – hoe goed is die Hurricanes sonder hom? (Foto Facebook)

Die waarde van ʼn skakelpaar wat mekaar aanvul en verstaan, is ononderhandelbaar in rugby.

Dink maar terug aan Saterdag se derde toets tussen die Bokke en Franse op Ellispark.

Hoe hard Francois Hougaard ook al probeer het om die beseerde Bok-skrumskakel, Ross Cronje, se skoene vol te staan, iets het gehaper. Hougaard was dalk effe verroes, want hy het weke laas vir die Worcester Warriors gespeel.

Dit het daartoe gelei dat sy verstandhouding met die losskakel Elton Jantjies gelol het. Dink maar terug aan die suksesvolle kombinasies van weleer: Dawie de Villiers en Piet Visagie, Naas Botha en Tommy du Plessis, Botha en Robert du Preez, Joost van der Westhuizen en Joel Stransky, Van der Westhuizen en Derick Hougaard, Fourie du Preez en Morné Steyn.

Die Hurricanes, wat Dinsdag in Wellington die Britse en Ierse Leeus pak, het dieselfde probleem – die kwiksilwer losskakel Beauden Barrett en TJ Perenara is by die All Blacks en word deur Otere Black (losskakel) en Te Toiroa Tahuriorangi  (skrumskakel) vervang.

Dis hoekom die Leeus ʼn goeie kans het om hul laaste toerwedstryd op ʼn hoogtepunt teen die Superrugby-kampioen af te sluit. Slaag hulle daarin om die Hurricanes se klaarblyklike leemte te ontbloot, is daar ook sommer hoop vir die oorblywende twee toetse.

Plaas hulle die Hurricanes se skakelpaar onder druk, sal dit die krane vir spelskeppers soos Jordie Barrett, Nehe Milner-Skudder, Julian Savea en Ngani Laumape toedraai.

Maar slaag die Hurricanes daarin om die Leeus te ontspoor, kan ek nie insien hoe die Leeus hul koppe kan optel voor Saterdag se tweede toets in Wellington se befaamde koekblik nie.

Het die Leeus die regte bestanddele daarvoor? Kan hul opskietverdediging die Hurricanes onder druk plaas, kan Courtney Lawes en CJ Stander met hul vurige spel hul plekke in die toetsspan oopspeel? Kan die vleuel Jack Nowell op heelagter slaankrag bring?

Verloor die Leeus, wag daar groot probleme, want hoe gaan jy al 47 spelers tevrede hou as die toer vir meer as die helfte van hulle verby is?  Dis dán wanneer die Engelse begin praat, wanneer die Walliesers glo hulle verdien meer spelers in die toetsspan, wanneer die Iere en Skotte huis toe verlang.

Dus is daar net een manier om dit reg te stel: klop die Hurricanes.

Spanne –

Hurricanes
15 Jordie Barrett, 14 Nehe Milner-Skudder, 13 Vince Aso, 12 Ngani Laumape, 11 Julian Savea, 10 Otere Black, 9 Te Toiroa Tahuriorangi, 8 Brad Shields (kaptein), 7 Callum Gibbins, 6 Vaea Fifita, 5 Sam Lousi, 4 Mark Abbott, 3 Jeff To’omaga-Allen, 2 Ricky Riccitelli, 1 Ben May. Bank: 16 Leni Apisai, 17 Chris Eves, 18 Mike Kainga, 19 James Blackwell, 20 Reed Prinsep, 21 Kemara Hauiti-Parapara, 22 Wes Goosen, 23 Cory Jane.

Britse en Ierse Leeus
15 Jack Nowell, 14 Tommy Seymour, 13 Jonathan Joseph, 12 Robbie Henshaw, 11 George North, 10 Dan Biggar, 9 Greig Laidlaw, 8 Christiaan Stander, 7 Justin Tipuric, 6 James Haskell, 5 Courtney Lawes, 4 Iain Henderson, 3 Dan Cole, 2 Rory Best (kapt.), 1 Joe Marler. Bank: 16 Kristian Dacey, 17 Allan Dell, 18 Tomas Francis, 19 Cory Hill, 20 George Kruis, 21 Gareth Davies, 22 Finn Russell, 23 Jared Payne.

Skeidsregter: Romain Poite (Frankryk).

Afskop: 09:35.

Verwagte weer: Gedeeltelik bewolk en koel met ʼn 90%-kans vir reën in die aand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.