Hoe groot was Mof, Pottie en Piet Spiere?

Piet Spiere du Toit - 95kg en een van Suid-Afrika se sterkste vaskoppe. Hy was die oiupa van die huidige Bokslot Pieter-Steph du Toit

Piet Spiere du Toit – 95kg en een van Suid-Afrika se sterkste vaskoppe. Hy was die oupa van die huidige Bokslot Pieter-Steph du Toit

Ek het as kind gedink dat Mof Myburgh een van die grootste  rugbyspelers in die wêreld was.

Dalk was dit oor sy natuurlike krag, sy dik nek, groot hande en die wyse waarop hy kon skrum.

Die waarheid is dat Myburgh maar 104 kilogram geweeg het en 1,85 meter lank was. Daar is destyds gesê dat hy dalk ʼn rapsie te lank vir ʼn stut was, maar wys my wie kon by hom staan in ʼn skrum?

Nog drie van die Bokke se kragreuse as stutte, Piet (Spiere ) du Toit (95 kg), Johan (Pottie) Strauss (98 kg) en Hempies du Toit  (100 kg) sou vandag kwalik die koppe laat draai het. En dan weet ʼn mens nie wat Boy Louw  en sulke ysters werklik geweeg het nie.

Suid-Afrikaanse ondersteuners was in 1974 platgeslaan toe Ian McLauchlan, loskopstut van Skotland en die Britse Leeus, kleingeld van die Bokke in die skrums gemaak het.

McLauchlan – sy bynaam was Mighty Mouse vanweë sy natuurlike krag – het slegs 92 kg geweeg en was 1,76 m lank.

In 1981 was Flippie van der Merwe die Bokke se vaskopstut in Nieu-Seeland. Van der Merwe (133 kg) was die swaarste Bok voordat hy deur Rudi (Vleis) Visagie met sy 137 kg verbygesteek is.

Hedendaagse afrigters, veral dié in Frankryk, is behep met grootte.

Die Franse afrigter Guy Noves, hou daarvan om  Uini Atonio as plaasvervangerstut in die tweede helfte op te stuur. As hy beseringsvry is, sal hy beslis in die Franse toerspan wees wat in Junie in drie toetse teen die Bokke speel.

Atonio, wat van Samoa afkomstig is,  weeg ʼn allemintige 152 kg en is  1,97 m lank.

Nou gaan die Franse o.20-keurders die 17-jarige Waalid Maamry  (155 kg en 2,00 m) kies vir die komende Sesnasiestoernooi (vir o.20-spanne) en sal hy ook na alle waarskynlikheid in Mei teen die Junior Springbokke in Georgië in die Junior Wêreldkampioenskappe speel.

Ja, Maamry, wat in Maart eers 18 word, dra nog baie babavet en sal dit afskud namate die seisoen vorder en hy fikser en taaier word.

Maar waar gaan dit alles eindig?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

At ·

Stereotipe boerseuns van ouds. Daardie spesie is bedreig, uitgeteel en ingeteel oor die afgelope twee dekades. Prima donnas met dik beursies en winkelspiere is aan die orde van die dag.

Anoniem ·

As ek reg onthou het Piet Bester, gewese vaskop stut van die Vrystaat maar 87kg geweeg en talle goeie loskoppe al hul dae in die skrum gegee.

Nico K ·

MW, ek dink Piet Bester was selfs onder 80kg geweeg toe hy vir die eerste keer vir die Vrystaat op voorry gesak het. Hulle het toe besluit hy moet gewig optel en ek dink hy het by 90kg gedraai teen die einde van sy loopbaan. Ja die rugbyspelers word nie net swaarder nie, hulle word ook langer, Frik du Preez ons beroemdste slot was maar 1,93m lank. Hy sou vandag op slot nie eers Springbok geword het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.