Hoe kan 6de beter wees as 2de, 3de, 4de of 5de?

Dis weer sulke tyd, daardie tyd van die jaar wanneer ʼn span wat sesde op die Superrugby se puntelys is, hoër geag word as ʼn span wat tweede, derde, vierde en vyfde is, en dus in die uitspeelrondes tuisveldvoordeel kry.

Ja, dis vanweë die sogenaamde konferensiestelsel (ʼn ewe aaklige woord wanneer daar eintlik na ʼn groep of afdeling verwys word) wat die Slim Janne van Sanzaar, die beheerliggaam van rugby in die Suidelike Halfrond, uitgedink het.

Soos sake nou staan, sal die Waratahs (39 punte) wat sesde op die algehele puntelys is, bo die Hurricanes (45), Chiefs (41) en Highlanders (40) deurdring, omdat hulle eerste in die Australiese afdeling kan eindig. Dit kan ook die wenner van die Suid-Afrikaanse afdeling geld, wat ook met minder punte as van die spanne “bo” hulle op die puntelys kan eindig.

Die All Blacks se kaptein, Kieran Read, het die afgelope naweek op Radiosport, ʼn radio-geselsstasie in Nieu-Seeland, sy misnoeë oor die niks-anders-nie-as gebrekkige stelsel uitgespreek, veral omdat daar planne is om die reeks uit te brei en ʼn span van die Suidsee-Eilande (heel waarskynlik Fidji), asook ʼn Noord-Amerikaanse span, by die reeks in te sluit.

Volgens Read dop die sogenaamde konferensiestelsel (ek het altyd gedink dat ʼn konferensie die een of ander saamtrek van mense is waar daar gesels, geëet, gedrink en beplan word) die toets en moet dit geskrap word.

Jare lank al krap Sanzaar kop oor die reeks se formaat, wat sedert die bekendstelling in 1996 as die Super 12, Super 14, Super 15, Super 16, Super 18 en nou weer as die Super 15 bekend staan.

Die Superreeks dien ʼn baie goeie doel. As dit nie daarvoor (en die Rugbykampioenskap) was nie, sou beroepsrugby reeds jare gelede in die Suidelike Halfrond doodgebloei het.

Dit het van Argentinië (Jaguares) en Sunwolves (Japan) waardige spanne gemaak, dit het hul toetsspanne gehelp om mee te ding. Maar in Japan se geval kan gevra word met hoeveel plaaslike spelers?

As ek reg getel het, was daar Saterdag in Singapoer tien buitelanders in die Sunwolves se groep wat die Bulls getroef het.

Wat Sanzaar (dié beheerliggaam het tot in 2016 as Sanzar bekend gestaan voordat Argentinië bygevoeg is) nodig het, is om ʼn konferensie te hou om oor die konferensiestelsel te besluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

nico k ·

Hoewel onregverdig, verstaan ek die doel van die stelsel. Ons wil SA spanne teen SA spanne sien speel. Min mense gaan Loftus toe as die Bulle teen die Rebels speel. Maar as hulle teen die Leeus speel is die bywoning (darem so bietjie) beter. Daarom speel ons 2 keer teen mekaar en net 1 keer teen ander spanne en is die stelsel van die begin af eensydig. Ek glo die beste stelsel sou gewees het as ons ons eie reeks gehad het (Curriebeker?) en die top 2(?) spanne speel teen die ander lande se stop spanne uit vir ‘n wenner. Maar dit sal natuurlik nie so baie geld vir TV regte inbring nie. Maar ek glo steeds daar is te veel wedstryde en die toeskouers raak verveeld.

Sune van Heerden ·

Dagsê Wouter

Sanzar se eerste Superrugbyreeks in die beroepsera, die Super12, is in 1996 gespeel. Die Sharks het in die eindstryd teen die Auckland Blues gespeel wat Noord-Transvaal vroeër in die halfeindronde met 48-11 uitgeskakel het. Die Blues het die Sharks met 45-21 in die eindstryd geklop.
Die laaste Super10-reeks was in 1995 toe Transvaal in die eindstryd met 16-30 teen Queensland verloor het.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Frans C ·

Die sg konferensiestelsel is maar net daar omdat Suid Arikaanse en Australiese spanne te swaqk is om mee te ding teen die NZ-spanne.Trek gerus ‘n prestasietabel op en kyk na die resultate.

Frans C ·

‘n Prestasiemodel volgens persentasie wen,sal tans soos volg lyk.
1 Crusaders speel 14 wen 12 85%
2 Hurricanes speel 14 wen 10 71 %
3 Highlanders speel 14 wen 9 67%
3 Chiefs speel 14 wen 9 67%
3 Jaguares speel 14 wen 9 67%
6 Lions speel 15 wen 8 53%
7 Waratahs speel 14 wen 8 50%
7 Rebels speel 14 wen 7 50%
9 Sharks speel 14 wen 6 43%
9 Bulls speel 14 wen 5 36%
11 Brumbies speel 14 wen 6 43%
12 Stormers speel 15 wen 5 33%
12 Reds speel 12 wen 4 33%
14 Blues speel 14 wen 4 29%
15 Sunwolves speel 14 wen 3 21%
Soos gewoonlik oorheers die NZ-spanne die prentjie,terwyl sommige Aussiespanne beter as van die SA spanne vaar.Die slegte nuus vir Lions ondersteuners is dat hul,hul kwota wedstryde byna voltooi het,terwyl sy naaste mededingers soos die Jaquares,nog twee wdstryde oor het.
Intussen val die Lionskaarthuis in duie met die vertrek van,van sy senior spelers,met behulp van sy voormalige afrigter, en lyk dit vir my wil sommige plaaslike afrigters soos aasvoëls op die leeukarkas toesak.Net so groot die politieke verdeeldheid is,gemeet aan die aantal partye,is rugby verdeeld en word dit ‘n geval van die een se dood is die ander se brood.

Frans C ·

Nee dit is nog verkeerd.Vingers stram van koue. Waratahs speel 14 wen 8 57 %.Dit is die Lions wat swakker vaar. Speel 15 wen 8 wat ‘n enpersentasie van 53 % het.

Hoe ‘n mens ook al daarna kyk,foute en al,daar is iets radikaal verkeer met SA spanne.Of dit by speler ingesteldheid of afrigting lê of afrokkeling plaaslik of oorsee ,gaan ek my nie oor uit laat nie.

Debat oor grond is tans meer belangrik as rugby.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.