Hoe sal die Kings in die Curriebeker kan speel?

ep-kings-logoSoos die wanorde by die OP Rugbyunie stilswyend voortduur, word daar toenemend gewonder hoe en waarmee hulle `n Curriebekerspan in die veld kan stoot.

Wanneer die Curriebekerreeks op 9 April afskop, is daar vir die OP Kings niks op die spel nie. Hulle sal sukkel om hond-haaraf te maak, maar is nietemin verseker van ʼn plek onder die laaste nege spanne wat dan in die Premierliga speel.

Soos die ander vyf Super-franchise’e moet die OP van 9 April af twee spanne per naweek op die veld hê. Dit sluit die junior spanne uit.

Die Superreeks waaraan die uitgedunde Southern Kings, weens die manewales en die bestuurversuim van Cheeky Watson,  moet deelneem, begin reeds op 25 September. Die span is nog nie eens gevul nie.

Dan kom die Curriebekerspan by.

Met die uitsondering van Junie, wanneer die inkomende toer van Ierland die Superreeks tot stilstand dwing, speel die Southern en die OP Kings feitlik elke naweek gelyktydig tot en met einde Julie wanneer die uitspeelwedstryde van die Superreeks begin. (En jy kan maar jou salaris verwed dat die Kings nie daar sal wees nie!)

Waarmee gaan hulle die twee kompetyisies tegemoet? OP Rugby het die eina-Supergroep, geen ander gekontrakteerde spelers wat nog daar oefen nie omdat hulle nie betaal word nie, en geen geld om nuwe spelers vir die Curriebekerreeks te lok nie.

Intussen is hulle, as een van die Super-franchise’e, van hulle plek verseker in die rondomtalie tussen die voorste nege spanne uit die 15 Curriebekerdeelnemers. Die ses franchisebonde (Blou Bulle, Goue Leeus, OP Kings, Sharks, Cheetahs en die Westelike Provinsie) is ʼn plek in die boonste nege spanne vir die Premierliga gewaarborg. Hulle word aangevul deur die drie spanne wat in die opstellende ronde die beste van die res vaar.

Is dit regverdig? Wat van spanne, en daar is nog ander, soos Griekwas, die Luiperds, die SWD Arende en die Pumas wat  seker almal ʼn kans het om bo die Kings te eindig?

Saru het dit nie te breed nie. Hulle het reeds die Southern Kings onder ʼn nuwe maatskappy beveilig sodat Watson en sy trawante nie die sowat R28 miljoen se betaling van TV-regte in  die diep donker gat van hulle skuld – glo sowat R100 miljoen – ingooi nie.

Dit het nie niks gekos nie.

Kan hulle, veral met die verlies van Absa as borg, nog meer geld by die Kings beskikbaar stel? Absa was die naamborg vir die nasionale spanne, die Curriebekerreeks en ook die twee provinsiale junior reekse. Die borgskap het van die orde van R20 miljoen bedra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Nico ·

Gaan kyk in die klubs Despatch, Polisie ens. daar gaan julle heelwat spelers kry wat wel minder gaan kos.
Ding is net hulle gaan gou deur ryk unies opgeraap word want nou word hulle raak gesien

Marius van Niekerk ·

Saru moes mos, vir watter rede ookal, vir Cheeky Watson gelukkig hou. Nou sit hulle met die gebakte pere. ‘n Eens trotse unie, in die afgrond in bestuur. Wat het hulle om te wys? Niks! Om te dink die Unie het topgehalte Springbokke opgelewer!!!! Nou kan hulle beswaarlik ‘n Curriebekerspan in die veld stoot. Skaam vir jou, Mnr Watson!!

Deon Bruyns ·

Ek stem saam, Marius.
As jy die Oos-Kaap ken, sal jy bewus wees van die “styl” van die Watsons.
Die SARU-lot se idee met Kings/OP se Super-Rugby en Curriebeker wedstryde is seker dat dieselfde span altwee wedstryde op een dag moet speel. Soos die kwota-stelsel, is dit ook teoreties moontlik!

Albert ·

Ek verstaan gladnie. Ons moes dan ‘ n paar jaar gelede van SARU / ANC / Watson en trawante hoor hoe ongelooflik baie talent en behoefte vir rugby daar in die Oos-Kaap opgesluit is en dat dit net die inherente rassistiese vooroordele teenoor Oos-Kaap rugby is wat dit keer om ‘n gerekende rugby krag te wees. Alles ‘n klomp bog gewees. As daar organies/natuurlik wél so ‘n sterk rugby kultuur / behoefte / krag in Oos-Kaapse rugby opgesluit was sou dit vanself vanaf voetsoolvlak natuurlik gegroei het. Die Kings het ‘n behoefte probeer fabriseer waar daar eenvoudig nie op groot genoeg skaal en kwaliteit die behoefte bestaan nie. Cheeky Watson behoort persoonlik aanspreeklik gehou te word.

Pieter ·

Maak vrede daarmee. Daar is eenvoudig nie ‘n groot genoeg behoefte vir ‘n struktuur soos die Kings nie. As daar wél was sou dit nie só ‘n gesukkel gewees het om die partytjie aan die gang te hou nie. Die ou storie dat die Oos-Kaap ‘n rugby reus sou gewees het as dit nie was vir die sogenaamde rassistiese houding van SA rugby teenoor die Oos-Kaap, is ‘n bog-storie. Die behoefte en plaaslike strukture is eenvoudig te swak en bogenoemde is die Oos-Kaap se eie verantwoordelikheid. Maak maar die shop toe. Hou Watson en kie persoonlik verantwoordelik vir die gemors van Kings Rugby.

Arie ·

Saru is op pad uit en met cosatu aan bewind sal dinge net erger word, almal buig mos voor die anc, die minderheid mense wat rugby aan die rol gehou het gaan al hoe minder rugby kyk en die meerderheid kyk nie rugby nie

Henry ·

Die Kings-OP bedryf se mislukkings verskil uiteindelik nie veel van dit wat die spul Politiek Korrektes by SARU aanvang nie.

Dieselfde klokke wat destyds die WatsonKings sirkus se einde aangekondig het, het reeds begin lui om ook die einde van Springbokrugby aan te kondig.

Die PK behepte SARU bestuur en die regime se politieke inmenging het verseker dat die einde van nog een van hierdie droewe land se voormalige nasionale bates wat soveel plesier en trots verskaf het, sy einde gesien het. (Sonder ‘n spieël)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.