Hóé sal ʼn nat Suncorp die Bokke raak?

Die Springbokke het vanjaar twee uit die twee keer wat dit in hul toetse gereën het, omtrent letterlik kleigetrap ‒ en die vooruitsigte vir die Suncorp-stadion waar hulle Saterdag (12:00 SA tyd) teen die Wallabies speel, dui daarop dat dit moontlik ook op ʼn nat veld sal wees.

Presies hóé nat, weet ʼn mens nie. Die verwagting is dat dit Vrydagaand en Saterdagoggend sal reën, en dat dit ʼn donderstorm in die oggend mag insluit. Sowat nege millimeter reën word die aand en oggend voor die wedstryd verwag.

Die weer behoort egter teen 13:00 (Brisbane-tyd) die middag op te klaar en teen afskoptyd 20:00 sal die veld hopelik nie meer te nat wees nie, maar darem ook nie kurkdroog nie, glo hulle in Brisbane.

♦ Dit sal die Bokke pas as die veld nie sopnat is nie.

Daar is twee redes dáárvoor. Suncorp word as een van die “vinnigste” velde ter wêreld beskou. Hardlooprugby gedy op dié veld, waarop in sy 26 toetse ʼn gemiddelde telling van 49 punte per toets op die veld aangeteken is.

ʼn Droë veld sal die Wallabies dus pas met hul agterlyn wat moontlik hul sterkste bate is. ʼn Effense stadiger veld behoort die Kolisi-hulle dus beter te pas.

Maar nie ʼn baie nat veld nie, want dit sal die Bokke se voorspelerkrag in die skrums en dryf- en rolmale help neutraliseer.

Die tweede rede waarom die Bokke ʼn effens droër veld ná die reën sal verkies, is Elton Jantjies.

Met die tekens dat Jantjies in die opdrafspan sal wees, ondanks sy gesukkel in Washington teen Wallis en op Nuweland teen Engeland toe dit in albei toetse gereën het, sal ʼn nat Wallaby-tuisveld net ʼn bykomstige uitdaging vir die Springbokke wees.

♦ Brisbane, waar die toets plaasvind, is in elk geval ʼn nagmerrieplek vir die Bokke. Hulle het slegs een uit 11 wedstryde in dié stad teen die Wallabies en net een uit hul sewe probeerslae in die Suncorp-stadion gewen.

Hul gemiddelde wentelling in dié stadion is 27-15. Dit sluit die loesing van 49-0 in 2006 teen die Bokke in, net ʼn jaar voordat die Wêreldbeker deur Suid-Afrika gewen is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Niklaas ·

Waarom die beheptheid met ou sukkel Elton wat glad nie inspireer nie ? Is daar werklik niemand anders as Pollard en hy nie…ek is seker Lambie en Lionel Cronje is fiks en kan nader geroep word as daar geen geskikte in SA is nie

nico k ·

Ek kan ook nie sien hoekom hulle Jantjies wil in bring nie. Daar was niks fout met Pollard se spel nie, net sy stelskop werk. Dit kan reggestel word. Hy het nie altyd so swak geskop nie. Is daar neimand anders in die span wat kan skop nie?

Judge Dredd ·

Reen of nie – hulle sal nogsteeds verloor – net die verskonings sal verander.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.