Hoe sal stryd van veld af Super 12 beïnvloed?

ooskaapwapenDis ʼn ope vraag hoe die afgelope twee weke se stryd van die veld af Saterdag se halfeindstryd in die Oos-Kaapse Super 12-reeks sal raak.

Die kragmetings is aanvanklik vir 4 Maart bepaal, maar ʼn twispunt oor die insluiting van ʼn bepaalde speler deur Spring Rose en ʼn aanvanklike beslissing in die beswaarmaker se guns, het die verdedigende kampioen, Gardens van Uitenhage, uit die uitspeelwedstryde geweer.

Gardens was allermins daarmee gediend en nadat die saak ʼn draai in die hof gemaak het, is hy gelyk gegee; en speel hy Saterdag 15:30 in ʼn derbystryd teen nog ʼn Uitenhaagse klub, Progress, op die dorp se Sentrale Sportveld.

In die ander halfeindstryd speel Spring Rose op die New Brighton-ovaal teen Oos-Londen Polisie, Grens se klubkampioen. Dié kragmeting begin eweneens 15:30.

Gardens, wat ook die Oostelike Provinsie se Grootuitdaagkampioen is, sal waarskynlik kwaai aangevuur wees deur die stryd om die onreg teen hom uit die weg te ruim, maar of enige van die klubs se spelers hul skerpte ná die twee weke sonder spel kan handhaaf, moet gesien word.

Nietemin, die reeks is bekend vir sy uiterste mededingendheid en ʼn mens wil tog vertrou dat dit nie in die slag gebly het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.