Hoe skerp is die Sharks se tande in der waarheid?

Was die Sharks werklik so goed soos hul afgelope wegholoorwinning oor die Blues aandui, of was die Blues eenvoudig maar net swak?

Dis geen geringe prestasie om 63 punte in ʼn Superrugbywedstryd oorsee aan te teken nie (die Sharks het die Blues Saterdag met 63-40 op Edenpark in Auckland geklop). Teen die Hurricanes dié Vrydag op McLeanpark, Napier, sal hulle egter moet bewys dat dit nie net ʼn gelukskoot was nie.

Die Sharks sal baie diep moet delf, want hulle het hul laaste drie wedstryde teen die Hurricanes in Nieu-Seeland verloor, 115 punte afgestaan en net 42 aangeteken. Op Kingspark in Durban was die skoen aan die ander voet, want daar was die Sharks in albei hul laaste twee wedstryde teen die Canes baas.

Afgesien van hierdie kragmeting met die Blues, het die Sharks nog nie vanjaar oortuig nie. Hulle kon nie een van die drie Australiese spanne klop nie en het ook teen die Lions verloor.

Hulle is die enigste span in die reeks wat die bal minder as 100 keer (97) per wedstryd dra en hulle mis gemiddeld 23 duikslae per wedstryd. Ek ys om te dink wat sulke keerwerk teen Beauden Barrett, Julian Savea, Vince Aso, Ngani Laumape en Ben Lam kan gebeur.

Die Sharks maak staat op Jean-Luc du Preez, Beast Mtawarira en Thomas du Toit om die tweede en derde fase af te dwing. Louis Schreuder, skrumskakel, sal sy kant moet bring om die bal voor die spelers te hou en van André Esterhuizen, binnesenter, word verwag om die bresse te slaan. Op die heelagter, Curwin Bosch, en die twee snellers, S’bu Nkosi en Lwazi Mvovo, word gereken om hopelik met hul vaart af te rond.

Ja, daar wás ʼn klemverskuiwing teen die Blues, maar een swaeltjie maak nog geen somer nie. Die Sharks sal weer (en selfs meer) ondernemend moet speel en al hul kanse aangryp.

Teen die Blues was dit op die oog af heel maklik, maar teen die Hurricanes sal hulle dit nie op ʼn skinkbord kry nie.

Spanne –
Hurricanes

15 Jordie Barrett, 14 Julian Savea, 13 Vince Aso, 12 Ngani Laumape, 11 Ben Lam, 10 Beauden Barrett, 9 TJ Perenara, 8 Gareth Evans, 7 Sam Henwood, 6 Brad Shields (kapt.), 5 Sam Lousi, 4 Michael Fatialofa, 3 Jeff Toomaga-Allen, 2 Ricky Riccitelli, 1 Chris Eves. Bank: 16 Asafo Aumua, 17 Fraser Armstrong, 18 Ben May, 19 Vaea Fifita, 20 Reed Prinsep, 21 Jamie Booth, 22 Ihaia West, 23 Wes Goosen.
Sharks
15 Curwin Bosch, 14 S’bu Nkosi, 13 Lukhanyo Am, 12 André Esterhuizen, 11 Lwazi Mvovo, 10 Robert du Preez, 9 Louis Schreuder, 8 Tera Mtembu, 7 Jean-Luc du Preez, 6 Philip van der Walt, 5 Stephan Lewies, 4 Ruan Botha (kapt.), 3 Thomas du Toit, 2 Chiliboy Ralepelle, 1 Beast Mtawarira. Bank: 16 Franco Marais, 17 Juan Schoeman, 18 John-Hubert Meyer, 19 Hyron Andrews, 20 Tyler Paul, 21 Cameron Wright, 22 Marius Louw, 23 Kobus van Wyk.

Skeidsregter: Nic Berry (Australië).

Assistentskeidsregters: Brendon Pickerill en Angus Mabey (albei Nieu-Seeland).

TV-skeidsregter: Aaron Paterson (Nieu-Seeland).

♦  In Saterdag se oorsese wedstryde speel die Sunwolves teen die Waratahs in Tokio (07:15), die Chiefs pak die Blues in Waikato (09.35), die Brumbies kom in Canberra teen die Reds te staan (11.45) en laataand speel die Jaguares teen die Crusaders in Buenos Aires (23:40).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nico K ·

Ek stem saam, ons sal moet wag en kyk. Die Blues is heelwaarskynlik die span met die swakste vedediging in die reeks en om hulle te wen beteken nie veel nie. Hulle het wel ‘n uitstekende aanval, en die Leeus, en amper die Haaie het dit agtergekom as jy jou eie verdediging laat slaplê net omdat jy ver voor is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.