Hoe sou Bokke in 1987 se Wêreldbekertoernooi gevaar het?

Gert Smal het later ’n suksesvolle afrigter geword. Foto: Twitter.

Dis ʼn vraag wat onbeantwoord sal bly, maar ʼn mens wonder steeds hoe die Springbokspan wat die Nieu-Seelandse Kavaliers in 1986 met 3 – 1 in die reeks geklop het, in die eerste Wêreldbekertoernooi in 1987 in Nieu-Seeland sou gevaar het.

As ʼn mens na die Springbok-spanlys van 1986 se vierde toets kyk, glo ek dat spelers soos Johan Heunis, Jaco Reinach, Danie Gerber, Carel en Michael du Plessis, Naas Botha, Garth Wright, Frans Erasmus, Uli Schmidt, Piet Kruger, Louis Moolman, Schalk Burger, Wahl Bartmann, Gert Smal en Jannie Breedt genoeg skietgoed sou gehad het om minstens tot die eindstryd deur te dring.

Die Kavaliers het tussen 10 en 31 Mei 1986 in vier toetse teen die Bokke gespeel. Afgesien van die vleuel John Kirwan en die skrumskakel David Kirk, wat albei nie wou toer nie, was dit dieselfde span wat die All Blacks vir die toer in 1985 na Suid-Afrika gekies het, maar die toer is ná ʼn hofbevel afgestel.

Die Bokke van 1986 het in die vier toetse teen die Kavaliers 96 punte aangeteken en 62 afgestaan.

Ja, hulle kon net sewe drieë druk, maar met koning Naas op sy beste (hy het 69 punte bygedra) het die Bokke al die nodige vaardighede gehad.

Die toer was ʼn tydige wekroep vir All Black-keurders, want hulle het ná die toer ou hout soos Bill Osborne, Bernie Fraser, Andy Haden, Andy Dalton, Gary Knight, Murray Mexted en Mark Shaw uitgekap en hulle is deur jonger spelers soos Johan Gallagher (23), Sean Fitzpatrick (23), Zinzan Brooke (22) en Michael Jones (22) vervang.

Die All Black-span het behoorlik in 1987 se WB-toernooi galop; hulle het 190 punte in drie groepwedstryde aangeteken, 30 drieë gedruk en net 34 punte afgestaan.

Die All Blacks het Skotland in die kwarteind met 30 – 3 afgeransel, Wallis met 49 – 6 in die halfeindronde vermorsel en die Franse met 29 – 9 bloedneus in die eindstryd gegee.

Sou die Bokke hulle kon stuit? Dit sal ʼn mens nooit weet nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johan

All Blacks en Springbok eindstryd van 1987 sou ‘n reusagtige stryd gewees het maar soos gese is hier le groot Springbok name wat die ding sou kon deurhaak -Johan Heunis, Jaco Reinach, Danie Gerber, Carel en Michael du Plessis, Naas Botha, Garth Wright, Frans Erasmus, Uli Schmidt, Piet Kruger, Louis Moolman, Schalk Burger, Wahl Bartmann, Gert Smal en Jannie Breedt. All Blacks 3 wereldbekers, Springbokke 3 wereld bekers(eers vanaf 1995 deelgeneem), Australie 2 wereld bekers, Engeland 1 wereld beker.

Alexander

Myns insiens sou die Sprinbokke skoonskip gemaak het, selfs al sou die toernooi in Nieu Seeland gewees het. Die 1986 bokspan sou in 1987 net nog sterker gewees het met spelers soos Andre Joubert, Burger Geldenhuys, Adolf Malan, Jan Lock en vele meer wat nog diepte kon verskaf.