Hoe sou Gert Muller in 2017 vertoon het?

Gert Muller (Foto voorsien)

Toe die All Black-afrigter Laurie Mains in 1994 die 19-jarige Jonah Lomu die eerste keer in die toetsreeks teen Frankryk  ingespan het, het hy rugby se doelpale verskuif.

Ja, sy leemtes is in dié reeks deur die Franse ontbloot, maar Mains en sy mede-keurders het aan die jong reus van Tonga bly glo. Lomu het in 63 toetse een van die bestes, indien nie die heel beste nie, vleuels van wêreldrugby geword.

Wie sal ooit vergeet hoe hy in 1995 oor die Engelse agterspelers Mike Catt en Rory Underwood in die halfeindronde van die Wêreldbekertoernooi gestoomroller het?

Sy 37 toetsdrieë was kroonjuwele (hoewel hy nie een drie teen die Bokke kon druk nie).

Sondag in Sydney is die horlosie teruggedraai toe die Waratahs-vleuel Taqele Naiyaravoro vir George Bridge van die Crusaders uit sy pad gevee het.  Naiyaravoro het net een pad geken, reguit oor Bridge.

Naiyarovoro (125 kg) is straks die grootste vleuel in wêreldrugby en is reeds deur die Wallabies gekies, net om seker te maak dat hy nie na Fidji sal terugkeer nie.

Wie was die Bokke se grootste toetsvleuel? Gert Muller, Carel Fourie, Ray Mordt?

Hoe groot was Willem Stapelberg en Corra Dirksen, wat veral die Franse nagmerries gegee het?

Die meeste (benewens Muller en Fourie) was aan die korterige kant, as hulle met Lomu vergelyk word.

Hoe groot was provinsiale kragvleuels soos Neil Burger en Koos Meiring? Bene soos boomstompe, maar albei kort.

Dit het my juis laat terugdink aan Muller, wat op Maties Springbok geword en sy loopbaan by die destydse Transvaal afgesluit het.

Hy was groot, sterk en baie vinnig. Hy kon deur ʼn muur hardloop, is daar gesê en hy kon sy lyf swaai en swenk. Hy kon, en het ook, oor menige teenstander gehardloop.

Gaan gesels maar met oud-Bokke soos Kevin de Klerk. Muller was een van die heel beste Bok-vleuels (in dieselfde geselskap as Bryan Habana).

Maar hy het in net 14 toetse tussen 1969 en 1974 gespeel en het net vier toetsdrieë gedruk.

Dink net daaraan as hy in meer as 120 Superrugby-wedstryde kon speel en in 80 toetse?

Gaan kyk maar op YouTube na sy drie in die derde toets teen die All Blacks in Port Elizabeth.

Pure plesier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Nico K ·

Ek wonder of mens iewers daai ouens se lengte en gewig in die hande kan kry. Dit sal beslis baie minder wees as vandag se spelers. Vandag se vleuels weeg swaarder as die meeste flanke van daardie dae. Frik du Preez sou te lig en beslis te kort (1.93m het ek gehoor) gewees het om vandag Springbokslot te speel.

Christian Schoeman ·

Jammer, maar Habana hoort nie in Gert Muller se geselskap – of Ray Mordt of Carel du Plessis s’n nie.

Prins karnatie ·

Stem saam Habana maar laag af op lys van beste Springbok vleuels

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.