Hoe sou Wallabies 1981 oorleef het?

Michael Cheika – in die knyp met ʼn oefenveld

Ek het altyd gedink die Wallabies is een van die slimste spanne ter wêreld, maar wat Maandag gebeur het, het my opnuut laat dink.

Die Wallabies, soos baie Australiese spanne voor hulle, het besluit om nie in Bloemfontein te bly en voor te berei vir Saterdag se toets in die Rugbykampioenskap teen die Springbokke nie.

Hulle verkies eerder die Monte Casino-kompleks in Sandton, daar waar die liggies skyn. Hulle oefen, soos baie ander spanne voor hulle, op die nabygeleë skoolveld van Fourways High, amperse stapafstand van die hotel af.

Maar raai wat, toe die Wallaby-afrigter Michael Cheika op en af stap en die veld uitmeet, het hy tot sy skok agtergekom dat die veld te klein is.

Hulle wou na ʼn ander veld by die skool verskuif, maar dit kon nie gebruik word nie, omdat dit krieketseisoen is en die kolfblad in die middel van die veld is waarop die skoolseuns moet speel.

Hulle gaan hul oefeninge na ʼn ander skoolveld verskuif en eers Vrydag hul eerste en enigste oefening (ʼn kapteinsoefening) in Bloemfontein hou.

Wie se skuld is dit? Is daar nie vooraf huiswerk gedoen of ʼn verkenningstog onderneem nie? Hoekom is daar nie van die begin af in Bloemfontein gebly nie?

Daar is baie voorbeelde van gemene spel, soos spanne wat nie hul laaste oefening kon inpas nie omdat die borge se logo’s op die veld geverf word, as gevolg van die ander span wat reeds oefen, spreiers wat aangeskakel word om die veld nat te lei en spreiligte wat aan die begin van ʼn aandoefening afgeskakel word.

Ek wonder hoe Cheika sou gereageer het as hy in 1981 saam met die Bokke in die VSA getoer het ná die betoging-ontwrigte toer in Nieu-Seeland.

Die toets teen die Amerikaanse Eagles is in groot geheimhouding van die Saterdag af na die Vrydagaand (25 September 1981) verskuif uit vrees vir ontwrigting, betogings en die Bokke se veiligheid. Daar was skaars 30 toeskouers by die toets en die media is nie eens van die verskuiwing in kennis gestel nie.

Die Bokke se plaasvervanger-losvoorspeler Thys Burger moes help om voor die wedstryde rugbypale op die Owl Creek-poloveld in Glenville, New York te plant.

Ironies genoeg het Burger in dieselfde wedstryd, voor die minste mense wat nog by ʼn toets was, gespeel toe hy Theuns Stofberg in die tweede helfte vervang het … en toe druk hy boonop die laaste drie in die Bokke se sege van 38-7.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Albert ·

Hul is slim want die lugdruk aanpassing is dan maklik oorbrug want Bloemfontein is laer as Johannesburg, dus gaan dit vir hul beter pas Saterdag met die toets.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.