Hoe trou `n mens diepte en afskuiwing?

Johnno van der Walt - verstaan die bank as strategiese wapen. (Foto: Gallo Images/Gold Cup Rugby)

Johnno van der Walt – verstaan die bank as strategiese wapen. (Foto: Gallo Images/Gold Cup Rugby)

Een van die grootste uitdagings in hedendaagse klubrugby is hoe om diepte te bou en die afskuiwing van spelers gebalanseerd en doeltreffend te bestuur.

Dis een van die aspekte waarin die spel deesdae wesenlik verskil van wat dit `n dekade of wat gelede nog was.

Daar was `n tyd toe daar jaloers gewaak is teen die “laai” van spanne deur, byvoorbeeld, `n paar spelers vir `n sleutelwedstryd van die tweede span uit die eerste span daarheen af te skuif. Dit was strafbaar en `n klub kon ligapunte verbeur as hy daaraan skuldig bevind is.

Die destydse Noord-Transvaalse Rugbyunie (nou die Blou Bulle-rugbyunie) het selfs jare lank `n komitee gehad wat oor die afskuiwing van spelers gewaak het.

Toe al was diepte noodsaaklik vir `n klub om beserings te kan verwerk; vandag is dit ook in ander opsigte van die uiterste belang.

Al is daar steeds net 15 spelers op `n gegewe tydstip op die veld, bestaan `n span lankal nie meer uit 15 spelers nie, maar uit `n groep van 22 (wat klubrugby betref).

Die afrigter wat nog dink die bank is bloot daar ingeval van beserings, vir wanneer `n speler die kluts kwyt raak, of wanneer een of meer nie meer die pas kan volhou nie, kan maar vir hom `n ander werk gaan soek.

Strategiese wapen

Die bank is `n strategiese wapen van die allergrootste belang, `n aspek wat Valsbaai se afrigter, Johnno van der Walt, met die afgelope reeks om die Goue Beker veel duideliker na vore laat kom het as wat dit dikwels selfs in toetsrugby blyk.

Ja, daar is die algemeen aanvaarde nuwe voorry om sogenaamd “vars bene” op die veld te kry, maar Van der Walt se bank het wesenlik impak gemaak, die speltempo versnel en drieë gedruk.

Ontleders wys op die noodsaak van diepte by `n klub as hy, byvoorbeeld, die Goue Beker wil wen, en Brakpan dui aan hoe belangrik dit vir hom was om in die afgelope reeks om dié beker oor drie puik stelle stutte en drie goeie hakers te beskik.

Maar hoe hou `n klub ál nege gelukkig as hy nie `n rotasiestelsel inspan om almal `n kans in die eerste span te bied nie?

Rotasie belangrik

Die All Blacks het die afgelope paar jaar getoon hoe belangrik die rotasie van spelers is om die ooreising van sleutelspelers te voorkom, en om nuwelinge die kans te gee om binne die span se spelpatroon te ontwikkel.

Dis `n aanpassing wat klubs wat wil uitstyg op groot skaal sal moet maak. Dit sal beteken dat `n “eerstespanspeler” dalk soms in die derde span sal moet speel, maar dit sal ook beteken dat daar vorentoe al hoe minder tussen die peil van die eerste-, tweede- en derde spanspeler in die topklubs gekies sal kan word.

Klubs wat bloot o die ou trant voortploeter, sal steeds oor die “laai” van spanne kla, maar die aanpassing sal in die belang van rugby aanvaar moet word.

Spelerbestuur is besig om `n hele nuwe spesialisveld te word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Swanna ·

Hooi maroela ek dink jul opskrif is verkeerd. Dit moet bou en nie trou wees nie. He he he.

Wim van der Berg ·

Die opskrif dui daarop dat twee oenskynlik onversoenbares bymekaar gebring moet word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.