Hoe vergelyk vandag se oes met HO-hulle?

André Joubert (Twitter)

Die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, sal moet raakvat om ʼn geskikte plaasvervanger vir Willie le Roux vir die oorblywende twee toetswedstryde in die Rugbykampioenskap teen die Wallabies en All Blacks te vind.

Le Roux, asook die flank Francois Louw, het na hul Engelse klubs, Londen se Wasps en Bath, teruggekeer. Volgens Erasmus se ooreenkoms met die twee klubs sal hulle eers weer aan die einde van die jaar vir die toetswedstryde teen Engeland, Frankryk, Skotland en Wallis (en ook nie eens vir almal nie) vrygestel word.

Hoe lyk die oes van plaasvervangers op heelagter?

Damian Willemse, Cheslin Kolbe, Curwin Bosch, Dillyn Leyds, SP Marais, Andries Coetzee?

Ja, Erasmus sou na alle waarskynlikheid vir Warrick Gelant gekies het as hy nie beseer was nie, maar nou flikker daar ewe skielik waarskuligte.

Die Springbokke het nog altyd vaardige heelagters gehad. Rotsvaste verdedigers en veilige spelers soos Johnny Buchler, Lionel Wilson en Johan Heunis en dan ook van die vaardigste spelers in wêreldrugby soos HO de Villiers, Gysie Pienaar en André Joubert.

Tussenin was daar Percy Montgomery, wat 893 punte in sy 102 toetswedstryde aangeteken het en in 66,17% van sy toetse in die wenspan was.

Dis nogal ironies dat nie een van De Villiers (14 toetwedstryde), Pienaar (13 toetse) en Joubert (34) baie lank in die tuig was nie, meestal vanweë beserings.

De Villiers, wat sy toetsbuiging in 1967 gemaak het, het nuwe maatstawwe in die nommer 15-trui gestel. Sy grootste bate was sy lyfswaaie, aftrappe en swenke op volle vaart – op nat en droë velde. Hy was ook in van die toetswedstryde die Bokke se stelskopper.

Dok Craven het op ʼn dag vertel dat HO, ondanks sy groot bates, nie in sy eie vermoë geglo het nie en die aand voor wedstryde nie kon slaap nie.

Maar met hom as heelagter het die Bokke 67,85% van hul wedstryde gewen.

Pienaar was van dieselfde stoffasie. Tonne visie, vindingryk en baie gevaarlik met sy teenaanvalle. Die Bokke 76,92% van hul toetswedstryde gewen toe hy gespeel het.

En dan Joubert, die Rolls Royce van heelagters. Sy wenpersentasie was 69,11% in die Springboktrui.

Hy was uiters bekwaam op aanval en verdediging en een van die Springbok-helde in 1995 se Wêreldbeker-toernooi toe hy met ʼn gebreekte hand in die halfeindstryd teen die Franse en eindstryd teen die All Blacks gespeel het.

Die vraag is, sou Joubert, Pienaar, De Villiers, Heunis en Montgomery vandag vir die Springbokke gespeel het?

Ongetwyfeld JA, met hoofletters gespel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Rinkhals ·

Andries Coetzee. Eerstens vreesloos onder die hoe bal, sterk en groot genoeg om ordentlik te verdedig, genoeg spoed om teen die regte hardlooplyn in te kom en opposisie se verdedigingslyn te kan breek en het goeie skopvoet. Galant is ongelukkig beseer en hy het meer aanvallende flair. Bly net weg van tuindwergies asb…….

Ben ·

Ek sou Andries Coetzee kies maar hy is geneig om sy pos as Heelagter te verlaat. Dit maak dit dan maklik vir oponente se loskakel om die bal diep te skop en dan punte aan te teken. Internationale rugby is nie supper rugby nie. Hulle gaan jou fout uitbyt. So as hy die versoeking kan weerstaan is hy die man vir die pos.

Steyn ·

Dink nie dit maklik om vandag se spelers met gister se helde te vergelyk nie. Grootste verskil is daai jare het manne vir liefde van game gespeel en baie opofferings gemaak net om saterdag op die veld te kon wees vir volle 80 minute. Vandag is dit profisioneel en al wat hulle doen, altans veronderstel is om te doen is om op rugby te konsentreer vir miskien dalk 5 minute op die veld as plaasvervanger op te draf.

Robert ·

Snaaks hoe daar altyd moet vergelyk word met spanne van die verlede. Wat baie verander het is die reels van die spel (rugby) en dit maak dat jy nie 2 spanne van verskillende eras kan vergelyk nie.

Henk ·

Die antwoord is ongelukkig ‘n skril nee. Nie een is “verteenwoordigend” genoeg nie. Feit is spankeuses word gemaak nie vanwee talent nie , maar om politieke base tevrede te stel. Lees gerus wat Steve Hansen te se het oor SA se spankeuses

Gerhard Olivier ·

vandag se rugby is totaal anders as daardie tyd. Daardie spelers was baie vaardig en sou definitief baie goed gedoen het. Hulle sou vir ons huidige omstandighede afgerig wees. Vandag se spel is vervelig en is daar te veel manne op die veld. Ek sou se hulle moes 12 manne op die veld he en ook 12 reserwes wat n paar keer kon op en afgaan m. a. w . dieselfde tipe spelers soos vandag se sewes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.