Hoekom in die hof en nie op die rugbyveld nie?

klophamerDis bitter jammer dat `n rugbyliga in die hof eerder as op die rugbyveld uitgespook moet word soos sake nou in die Oostelike Provinsie dreig om te gebeur.

Die twisappel is deelname aan die oop klubs se nasionale reeks om die Goue Beker.

Bewerings van onreëlmatighede in die bond se Grootuitdaagliga, gevolg deur beskuldigings van ongerymdhede in die gepoogde bereddering daarvan blyk nou op `n regsgeding af te stuur.

Op die koop toe het die betrokke spanne, Port Elizabeth Polisie en Despatch, verlede jaar gelykop (22-22, rustyd 10-10) in die reeks oor `n enkele ronde gespeel.

Dit laat `n mens wonder of die beste uitweg nie sou wees om tog maar, soos dit hoort, sake op die veld uit te spook nie.

Só `n uitspeelwedstryd tussen Polisie en Despatch (op neutrale grond en met voorsiening vir bykomende tyd) behoort soveel belangstelling landwyd gaande te maak dat dit `n aanloklike proposisie vir `n borg/borge kan wees.

Met behoorlike bestuur en bemarking is daar dalk selfs `n winsie uit maak, terwyl `n regsgeding geld gaan opslurp wat geen rugbyklub werklik kan bekostig (om in die water te gooi) nie.

Wat op die spel is, is tog wie van die twee die beste rugbyspan is, nie wie van hulle die knapste regspan het nie.

`n Mens kan bloot vertrou dat gesonde verstand op die ou end sal seëvier, want `n hofsaak sal waarskynlik `n kloof tussen die twee klubs meebring wat jare kan duur om te oorbrug. Dit sal ook nooit die beste span kan uitwys nie.

veldenbal♦ Dis selfs ontstellender dat hierdie nie die eerste keer die afgelope jaar sal wees dat `n rugbyklub hom tot die hof wend in `n ligatwis nie.

Pas verlede jaar het die Naka Bulle `n dringende hofaansoek gerig om tot die halfeindstryd van die Blou Bulle se Carltonliga toegelaat te word nadat hulle op administratiewe grond ligapunte ontneem is wat hulle laat uitval het.

Die hof het nie die saak as dringend beskou nie, en Naka het dit daar gelaat, waarskynlik omdat verdere regskoste beter in die klub self belê kon word.

Hoewel dit nie regsoptrede uitgelok het nie, was daar verlede jaar ook ander gevalle waar administratiewe foute op die nippertjie reggestel moes word.

In die Valke se Peregrineliga het Vaal Reefs twee dae voor die halfeindstryd verneem `n bonuspunt is iewers verkeerd toegeken en hý pleks van Klerksdorp moes in die halfeindronde speel.

`n Eerlike Germiston Simmer het die Goue Leeus daarop gewys dat `n ander klub, en nie hy nie, regtens vir `n halfeindstryd in aanmerking moes kom.

Die feit dat die Valke op hierdie laat stadium nog nie die bond se deelnemer aan die reeks om die Goue Beker benoem het nie, wek insgelyks die indruk dat daar iets haper, al lyk dit nie na iets onoorkomeliks nie.

Daar was seker maar altyd êrens glipse in die puntelere, maar daar is soveel meer, veral ten opsigte van borgskappe, in die beroepsbedeling op die spel, dat sulke foute verreikende gevolge kan hê en bonde sal hul hantering van ligas toenemend moet opskerp.

Die dae dat `n mens met onbekookte besluite kon wegkom, is verby.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.