Hoekom glo Wallis hulle kan die Bokke klop?

Dit sê darem baie min van jou span se vermoë wanneer jou teenstanders, wat laer as jy op die wêreldranglys is en sonder 12 of meer spelers moet klaarkom wat beseer is of nie beskikbaar is nie, jou in hulle visier het.

Dis die harde werklikheid van Springbokrugby: vyfde op die wêreldranglys,  maar ’n span wat nie meer gesag afdwing nie.

Dis hoekom die uitgedunde Walliesers, wat sonder die meeste van hul topspelers moet klaarkom, vas glo hulle kan Saterdag in Cardiff hul derde opeenvolgende oorwinning tuis oor die Springbokke behaal.

Jinne mense, hulle het die Bokke nog net drie keer in 32 toetse sedert 1906 geklop, het ʼn wenpersentasie van slegs 9,38% oor die Bokke en het baie, baie minder spelersdiepte. Hulle het boonop vroeër vanjaar tweede laaste in die Sesnasiesreeks geëindig nadat hulle slegs twee wedstryde kon wen.

Wallis het twee weke gelede ook met 13-6 teen Georgië deurgeskraap ná die skeidsregter se omstrede besluit om in beseringstyd ʼn nie-mededingende skrum op Wallis se doellyn toe te ken – ʼn beslissing wat kwaai gekritiseer is.

Vanwaar dan die Walliese selfvertroue?

Omdat Springbokrugby afgewater geraak het, omdat hulle sedert 2015 die eerste keer ooit teen Japan en Argentinië verloor het, omdat hulle rekordnederlae teen die All Blacks en Ierland gely het, en omdat hulle nie vanjaar die Wallabies kon klop nie. Ook omdat ander spanne nie meer die ander wang draai nie, omdat die Bokke sonder selfvertroue en swak afgerig is, en omdat hul spelpatroon baie maklik ontleed kan word en teenvoeters daarvoor gevind kan word.

En tog … tog  glo ek die Bokke kan die Walliesers van hul voete af hardloop, want die Bokke se pak kan die onervare Walliese voorspelers vermorsel.

Sal dit nie vir ʼn slag lekker wees om Handré Pollard, Francois Venter, Jessie Kriel en Warrick Gelant agter Wallis se doellyn te sien feesvier nie?

Sal dit nie lekker wees om te sien hoe die Bokke se voorspelers die Walliesers poegaai skrum, hul lynstaanbesit bederf, besit in die los beklink en rolmaal en rolmaal nie?

Dis ook na alle waarskynlikheid die Bok-afrigter, Allister Coetzee, se swanesang.

Kan die Bokke hom ʼn afskeidsgeskenk gee, net soos die Bokke in 1997 gedoen het toe hulle die Wallabies met 61-22 getrap het nadat Carel du Plessis afgedank is?

Die Bokke skuld Coetzee niks nie, maar wel die ondersteuners.

Laaste tien toetse –

2008: Suid-Afrika wen met 43-17 in Bloemfontein.
2010: SA wen met 29-25 in Cardiff.
2010: SA wen met 34-31 in Cardiff.
2011: SA wen met 17-16 in Wellington, Nieu-Seeland in die Wêreldbekertoernooi.
2013: SA wen met 24-15 in Cardiff.
2014: SA wen met 31-30 in Mbombela.
2014: SA wen met 38-16 in Durban.
2014: Wallis wen met 12-6 in Cardiff.
2015: SA wen met 23-19 in Londen (WB-toernooi).
2016: Wallis wen met 17-13 in Cardiff.

Die spanne – 

Wallis
15 Leigh Halfpenny, 14 Hallam Amos, 13 Scott Williams, 12 Hadleigh Parkes, 11 Steff Evans, 10 Dan Biggar, 9 Aled Davies, 8 Taulupe Faletau, 7 Josh Davidi, 6 Aaron Shingler; 5 Alun-Wyn Jones (kaptein), 4 Cory Hill, 3 Scott Andrews, 2 Kristian Dacey, 1 Rob Evans. Bank: 16 Elliot Dee, 17 Wyn Jones, 18 Rhodri Jones, 19 Seb Davies, 20 Dan Lydiate, 21 Rhys Webb, 22 Rhys Patchell, 23 Owen Watkin.

Suid-Afrika
15 Andries Coetzee, 14 Dillyn Leyds, 13 Jesse Kriel, 12 Francois Venter, 11 Warrick Gelant, 10 Handré Pollard, 9 Ross Cronjé, 8 Dan du Preez, 7 Pieter-Steph du Toit, 6 Siya Kolisi, 5 Lood de Jager, 4 Eben Etzebeth (kaptein), 3 Wilco Louw, 2 Malcolm Marx, 1 Steven Kitshoff. Bank: 16 Bongi Mbonambi, 17 Trevor Nyakane, 18 Ruan Dreyer, 19 Oupa Mohoje, 20 Uzair Cassiem, 21 Louis Schreuder, 22 Elton Jantjies, 23 Lukhanyo Am.

Skeidsregter: Jérôme Garcès (Frankryk).
Assistent-skeidsregters: Wayne Barnes (Engeland), Frank Murphy (Ierland).
Televisieskeidsregter: Rowan Kitt (Engeland).
Verwagte weer: Dit sal koud wees, maar die stadion se dak sal toegemaak wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.