Hoekom is Mbalula en rugbybase so stil?

ʼn Mens hoop maar dit was ʼn geval van hard agter die skerms werk, want die onlangse besoek van die Wêreldbekerkomitee se tegniese komitee vir 2023 aan Suid-Afrika het skaars die nuus gehaal.

Die minister van toerisme, Derek Hanekom, het darem in die parlement die komitee die versekering gegee dat die regering die bod steun, die finansiële waarborge (glo R3.7 miljard sal gee, anders as in die geval van die Statebondspele wat in 2022 Durban gehou sou word, maar gesneuwel het), en hy het uitgestippel watter voordele 2023 se toernooi vir die land sal inhou.

Dit was nogal ironies dat die minister van sport, Fikile Mbalula, verlede Dinsdag die jawoord uit die bloute aan rugby gegee het nadat hy maande lank gedreig het om rugby in die wildernis te hou.

Hy het glo die jongste verslag van dr Willie Basson se Belangrikepersone-groep ontvang wat toon watter vordering rugby sedert die vorige verslag gemaak het wat rugby, krieket, netbal en atletiek oor trae tranformasie geroskam het.

Maar skaars ʼn woord van die Suid-Afrikaanse rugbybase af.

Ja, die finale bod word eers amptelik op 1 Junie ingedien, in September sal daar weer met Wêreldrugby vergader word en een van Suid-Afrika, Frankryk of Ierland sal 19 van die 37 stemme op hom moet verenig voordat daar in November aangekondig sal word wie gasheer vir 2023 se toernooi sal speel.

In teenstelling daarmee het die komitee Ierland Woensdag en Donderdag besoek. Die uitvoerende hoof van die Ierse Rugbyunie, Philip Browne, het sy tevredenheid met die besoek uitgespreek. Die land is verenig oor die bod, die Ierse rugbyunie en regeringsbeamptes, lede van die Iere se vroue-rugbyspan asook ander sportsoorte het ook die komitee vergesel. Frankryk kom aanstaande week aan die beurt, maar ek weet nie of die Franse enige kans staan nadat hulle die toernooi so onlangs soos in 2007 aangebied het nie.

Dit lê tussen Suid-Afrika en Ierland.

Die een met ʼn ryke rugbygeskiedenis, wat in 1995 ʼn baie suksesvolle RWB-toernooi aangebied, verskeie ander wêreldbyeenkomste en toernooie aangebied het, en dit in 2010 met die Wêreldbekersokker-toernooi opgevolg het … die ander wat nog nooit ʼn belangrike WB-toernooi aangebied het nie.

Maar onthou Brexit, onthou president Trump se verkiesing in Amerika.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Cass ·

Gun Ierland die een, tenminste speel hulle nog die spel met n passie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.