Hoekom kan die Bokke nie ook so speel nie?

Nie altyd ewe goed nie, maar die soort rugby wat jou jaloers maak dat jou span dit nie speel (of kán speel) nie.

Dit is die opsomming van die eerste twee wedstryde in  vanjaar se Sesnasiesreeks wat Saterdag afgeskop het.

Wallis teen Skotland en Frankryk teen Ierland was vol konstruktiewe hardlooprugby, goeie ondersteuning en onbetwiste vaardigheid en regte opsies.

Wallis het die Skotte in Cardiff met 34-7 geklop nadat die besoekers in die eerste helfte nie veel teruggestaan het nie hoewel hulle gou met 0-14 agter was nadat hulle, op die aanval, ʼn langafstand-onderskepdrie afgestaan en kort daarna ʼn verdedigingsflater in die middelveld begaan het.

Skotland was, veral in die tweede helfte toe hulle ook met vroeë strafdoele op die telbord verder agter geraak het, nie meer so vol vuur nie.

Hulle het die groot loesing gekry ondanks hulle meer besit en gebied gehad het. Daardie twee drieë het die vroeë belofte geblus en Skotland se verwagtinge van ʼn goeie seisoen ietwat skade laat ly.

En Wallis? Met tien spelers van die Scarlets wat vir die horde beseerde Britse en Ierse Leeus moes terugstaan, was hierdie ʼn span wat vanjaar Sesnasies ʼn lekker paar weke gaan maak om na te kyk.

♦  Die nuwe Franse span onder die nuwe afrigter Jacques Brunel was ongelukkig om feitlik vier minute ná die toeter die wedstryd teen Ierland te verloor.

In ʼn wedstryd waar die Iere in Parys die verrigtinge voor rustyd oorheers het, het Jonny Sexton met ʼn skepskop na sowat 40 fases vanaf hulle eie doellyn die toets vir Ierland beklink, 15-13.

Daar is van meet af deur albei spanne met die bal gehardloop. Die Franse verdediging was heg, en hulle het net vier strafdoele en die skepdoel teen hulle gekry en self die enigste drie gaan druk.

Hulle tweede helfte het gewys dat hierdie Franse span nie meer die sukkelklomp van verlede Junie in Suid-Afrika en op die jaareindtoer in Parys teen die Bokke is nie.

Ja, daar lê natuurlik nog werk vir die nuwe afrigter Jacques Brunel voor, maar hy het reeds ʼn nuwe vasberadenheid en benadering by die Hane ingeprent.

Met vier spanne wat hardloop, en dit boonop benewens Skotland goed en met oorleg doen, is die gereelde kreeftegang kantlyn toe deur Suid-Afrika se agterspelers herbeklemtoon.

Vaardigheid, visie, ondersteuning …

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.