Hoekom kan ‘n land in die Superreeks speel?

Dit is jarelank al ʼn besprekingspunt of ʼn provinsiale  span wat reeds lank saam speel, as ʼn eenheid nie dalk beter as die Bokke is nie.

Dink maar terug aan Noord-Transvaal, wat tussen 1968 en 1981 die Curriebekerreeks nege keer gewen het en twee keer gedeel het, asook die Westelike Provinsie se goue jare tussen 1982/’86,  toe hulle die Curriebeker onder die afrigter, Dawie Snyman, vyf jaar na mekaar gewen het.

Hou sou die Bulls van 2009 en 2010, wat die Superrugbyreeks agtereenvolgens gewen het, gevaar het?

Wat van die Lions van 2016 en 2017?

Dis hoekom ek steeds kopkrap oor hoe Sanzaar in 2013 kon besluit het om die Superreeks uit te brei deur die Argentynse Jaguares (en ook die Sunwolves en Southern Kings) van 2016 af in ʼn vergrote Superreeks te laat speel.

Dit het reeds geboemerang, want Suid-Afrika en Australië moet binnekort drie spanne die deur wys.

Die besluit om die jawoord aan die Argentyne te gee, het straks sy beslag in 2010 gekry toe die Argentynse Pampas die eerste keer in die plaaslike Vodacombeker-reeks gespeel het. Die Pampas het die reeks in 2011 gewen nadat hulle onoorwonne was. Daar was dus talent en diepte.

Argentinië het toe in 2012 die eerste keer in die Rugbykampioenskap gespeel en gaan van krag tot krag, hoewel die Poemas nog net drie uit 27 toetse kon wen. Die Bokke het 12 van 27 toetse in daardie tyd gewen en die Wallabies 13.

Ja, dit was sekerlik nodig om rugby in Argentinië op te hef, dit was nodig om die spel professioneel te maak; en ja, dit was nodig om van Argentinië ʼn krag te maak, om te keer dat die room van die land se spelers oorsee speel en slegs ʼn week voor ʼn toets kon saamtrek.

Maar ten koste van jouself?

Wanneer die Poemas in die Rugbykampioenskap speel, hoeveel spelers sal daar in die span wees wat nie vir Jaguares speel nie?

Dis eintlik vreemd dat Raul Perez die Jaguares afrig en Daniel Hourcade die Poemas.

Dit moet darem baie lekker wees om die Poemas te kies en dan af te rig. Dis dan dieselfde spelers en hulle speel nou al byna drie jaar saam. Boonop is daar ʼn beleid dat geen spelers wat oorsee speel, gekies sal word nie.

Net soos baie ander besluite van Sanzaar, is dit ook een wat  aan die hakskene byt.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pietman ·

Wees dankbaar vir die Jaguares. Sonder hulle en die Sonwolwe sou ons spanne net mekaar kon klop.

Therese van Schalkwyk ·

Suid-Afrika en Australië skiet hulself beslis in die voet met hierdie dwase besluit, terwyl die All Blacks ongeskonde van krag tot krag gaan.
Waarom rugby in Argentinië en Japan nie ontwikkel kan word, sónder om die sport in die twee tradisionele rugbylande groot skade te berokken nie, weet nugter alleen?
Die Western Force, die enigste inspirasie vir skole- en klubrugby in Wes-Australië, het nie eers die opsie van ‘n Curriebeker-kompetisie soos die stiefkinders van SA nie. Rugby in Australië gaan beslis nóg swakker raak … iets wat nie die toeskouers óf opponente wil sien nie.
Daar is goeie rede om te wonder oor die gesamentlike hoeveelheid breinselle in Sanzaar!

Nico K ·

Interessante stelling oor rugby in Australië deur Therese. Ek het onlangs eers besef hoe klein sport rugby in Australië is. (En in Melbourne en Wes-Australië amper onbekend.) In Australië kry rugby nie eers ‘n kwart van die toeskouers wat rugby league kry nie, en nie ‘n tiende van die toeskouers van Australian Football nie. Selfs sokker kry meer toeskouers. En om terug te kom na die oorspronklie argument. Ek reken Sanzar het probeer uitbrei na ander lande vir meer TV regte en dus meer geld. Nie noodwendig ‘n verkeerde besluit nie. Maar ja, het dit die reeks bevoordeel? Miskien moet Argentinië 2 spanne inskryf om te keer dat dit ‘n nasionale span word. Ek dink Argentinië het genoeg spelers daarvoor.

Pietman ·

Ek verstaan nie hoe die Jaguares se deelname nadelig vir Superrugby of SA rugby kan wees nie? Hulle is immers beter as die Cheetahs, Kings, Bulls en kompeteer goed met die Leeus en Stormers. Daar is eenvoudig nie genoeg diepte vir 2 spanne nie. Iets wat ons slim rugbybase nie geweet het toe hulle 6 spanne wou inskryf nie. Een van die dae gee hulle weer die proteas streepsuiker.

Valerie ·

S Afrikaner sportliefhebbers soek altyd rede vir verloor. Kom al vir eeue saam. Wees net bly Lesotho het nie ‘n span in die kompetisie nie; dan het daar nog meer SA spanne verloor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.