Hoekom word SA nie genooi nie?

logo-usaDie All Blacks het `n toets in Chicago gespeel, die Wallabies doen dit oor so drie maande, en nou speel die Crusaders en die Londense spogklub Saracens ook in Amerika teen mekaar.

Maar Suid-Afrikaanse spanne word nie genooi nie. Miskien is ons rugby nie vir hulle interessant genoeg met skop en storm en rolmale in hierdie dae waar die VSA mense wil oorlok rugby toe nie.

Dié keer sal dit in New Orleans wees waar die besoekers uit Nieu-Seeland en Saracens kragte meet. Dit sal sonder hulle voorste spelers wees wat by hulle nasionale spanne vir die Wêreldbeker ses weke later sal voorberei.

Crusaders sal uit `n span van Super en provinsiale spelers bestaan, sê hulle uitvoerende hoof Hamish Riach.

Dis nietemin nie `n sommerso wedstryd wat op 1 Augustus gespeel word nie. Dit word in die Superdome, tuiste van die New Orleans Saints, gespeel. Die toeskouerkapasiteit is 76 000, en al word `n groot skare verwag, sal die stadion seker darem nie heeltemal vol wees nie.

Vir die Saracens  (en die Wallabies) kan dit lekker betaaldae beteken. Die werklike doel agter die Amerikaanse aanbieding van wedstryde teen voorste oorsese spanne is egter die gedagte van die redelik nuwe organisasie RugbyLaw.

Hulle het ten doel om alle kollege- en ook voormalige spelers van die Amerikaanse voetbalkode te oortuig om na rugby oor te slaan.

Daar is reeds die afgelope tyd `n groot toeloop na rugby toe en die Minnesota gebaseerde RugbyLaw het doel om rugby in die VSA tot `n ongehoorde vlak te neem in soverre dit ondersteuning en ook gehalte van die spel betref.

Vraag is: kan Suid-Afrika hulle nie ook hiermee help deur daar te gaan speel en `n klompie dollar te verdien nie?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.