Hoekom word steeds met Bokafrigters misgetas?

Bestendigheid is een van die boustene van sukses vir enige rugbyspan.

Dis hoekom dit onverstaanbaar is dat die Suid-Afrikaanse rugbybase mistas met die aanstelling van Springbokafrigters.

As jy rondval, kan jy maar verseker wees dat swak vertonings sal volg, want die spelers is nie robotte nie en kan nie elke paar jaar in ander maalstroom beland nie.

Toe Allister Coetzee Vrydag gepos is met ʼn wenpersentasie van slegs 44% in sy tydperk van twee jaar, het hy die 12de Springbokafrigter sedert 1992 geword (Gerrie Sonnekus is aangestel, maar hy het nooit afgerig nie) wat óf gepos is óf nie weer aangestel is nie.

Dit ondanks twee oorwinnings in Wêreldbekertoernooie en drie Drienasiestitels.

Maar die Bokke het al baie meer afrigters gehad as Nieu-Seeland (slegs 6 afrigters sedert 1992), Australië (8), Engeland (9), Argentinië (11, hoewel hulle soms van twee of selfs meer afrigters gebruik maak waarvan een behou is) en die onvoorspelbare Franse, wat sedert 1992 nog net sewe afrigters gehad het.

Net sewe afrigters in 25 jaar, maar nie eens één Wêreldbekertitel vir die onstuimige Franse nie?

Dit dui daarop dat die verkeerde Springbokafrigter aangestel is, dat hy nie bekwaam genoeg was nie en dat die verwagtinge dalk te hoog gestel is.

Daar moet ‘n prestasieklousule in elke afrigter se kontrak ingesluit word, maar as jy darem nege van jou 14 toetse vanjaar teen spanne hoër as jy op die wêreldranglys gaan speel, gaan dit mos bitter moeilk wees om ʼn wenpersentasie van 65% te handhaaf.

Springbokafrigters sedert 1992: John Williams, Ian McIntosh, Kitch Christie, André Markgraaff, Carel du Plessis, Nick Mallett, Harry Viljoen, Rudolf Straeuli, Jake White, Peter de Villiers, Heyneke Meyer en Allister Coetzee

Nieu-Seelandse afrigters sedert 1992: Laurie Mains, John Hart, Wayne Smith, John Mitchell, Graham Henry en Steve Hansen.

Wallaby-afrigters sedert 1992: Bob Dwyer, Greg Smith, Rod Macqueen, Eddie Jones, John Connolly, Robbie Deans, Ewan McKenzie en Michael Cheika.

Engeland-afrigters sedert 1992: Geoff Cooke, Jack Rowell, Clive Woodward, Andy Robinson, Brian Ashton, Rob Andrew, Martin Johnson, Stuart Lancaster en Eddie Jones.

Frankryk-afrigters sedert 1992: Pierre Berbizier, Jean-Claude Skrela, Bernard Laporte, Marc Lievremont, Philippe Saint-André, Guy Noves en Jaques Brunel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Sarel ·

Daar is engelse gesegde ” kill it with a thousand faults” ?

Vaalseun ·

Goeie vraag, Pieter. Dok Craven het een van die rolmodelle vir die All Blacks se rugbykultuur en -afrigting geword. Hy het kop en skouers bo sy eweknieë oor die wêreld uitgestaan in alle aspekte van die sport. Dit het ek in 1990 in Australië agtergekom na ‘n gesprek met ‘n All Black Rugbyraadslid. Dit is een van die redes waarom hulle groot respek vir die Springbokke gehad het. Wanneer ons toelaat dat aanstellings met politieke en persoonlike bymotiewe in ons sportbesture gedoen word en die sportkultuur bepaal, moet ons nie verbaas wees as die beste spelers en afrigters ander weivelde soek of onttrek nie. Vir Dok Craven as akademiese sportdenker, sportleier en rugbyafrigter het dit gegaan oor wat die beste vir rugby as ‘n sport, vir rugbyspelers en vir rugbyspanne was en hoe om dit te bereik.

Anton ·

En ons in Suid Afrika het net mooi niks geleer by Dok Craven nie! Probleem is ons blameer so graag die staat en ja hulle meng in, maar wat ek se is dat daar nie mense is in Saru wat rugby in hul bloed het nie. Nog meer ons gebruik nie ons rugbytalent om te help met afrigting nie. Maar die grootste probleem is ons kan nie saamstaan agter ons Springbokke nie. Hoe moet hulle dan wen?

Snuffels ·

Dit is beslis moeilik om die top spanne on die wereld te klop, maar hoekom is ons nie as n top span meet beskou nie? Ons moet nie wonder hoe ons hulle klop nie, hulle moet wonder hoe hulle ons gaan klop, en veral in ons agterjaard. Die probleem le by die administreurs, hoeveel foute het hulle begaan en wie betaal die prys, nie een van hulle nie. Ek het met Justin Marshall gepraat, en geen top afrigter sal kans sien vir die pos nie agv die administreurs (indien daar n verskil is tussen hulle en die politici!)

Frans C ·

Die grootste probleem is dat inteenstelling met NZ daar geen eenvormige rugby patroon in Suid Afrika is nie.
Spelers wat goed onder een afrigter vaar kom eenvoudig nie die mas op onder ‘n ander afrigter.
Jantjies se selfvertroue het so onder Coetzee
agteruit gegaan dat dit die hele agterspel so swak gemaak het dat dit naderhand aan die belaglike begin grens het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.