Hoeveel skerper moet les by Saru ingeprent word?

ʼn Mens wonder hoeveel skerper die Superrugbyles by die SA Rugbyraad (Saru) ingeprent moet word voordat dit tot hom sal deurdring.

Sê Vrydag se uitslag in Melbourne nie genoeg nie? Rebels 46, Sharks 14.

Dit was die vorige twee jaar so duidelik soos daglig dat Suid-Afrika en Australië eenvoudig nie die diepte vir onderskeidelik ses en vyf sterk Superrugby-franchise’e het nie.

Sanzaar moes die mededingendheid van die reeks red, en het dit met drie spanne ingekort – twee van Suid-Afrika en een van Australië.

Doer Onder het ʼn fel twis ontketen toe die Australiese Rugbyunie (ARU) besluit het om die Western Force – sy tweede beste span – se franchise-lisensie te kanselleer, maar die Melbourne Rebels in die reeks te behou.

Die ARU is voor die hof gedaag, maar het voet by stuk gehou en die saak gewen. Die Force is ontbind, sy afrigter en talle van sy topspelers het ʼn nuwe tuiste by die Rebels gevind, en is vir Australië in die Superreeks behou.

Die resultaat: Australië se skraal bronne word ewerediger versprei, en die Rebels – verlede jaar se agteros wat slegs een uit 15 wedstryde kon wen, een gelykop gespeel, en 13 verloor het – is met vier seges in vyf kragmetings voor in die Australiese Afdeling.

Sy 20 ligapunte is reeds meer as dubbel soveel as verlede jaar se nege.

In Suid-Afrika het Saru met sy gebrek aan kragdadigheid, voorliefde om die weg van die minste teenstand te volg, en oënskynlike tekort aan insig voor die eerste dreigemente van regstappe geswig.

Eerder as om die getal franchise’e in te kort en die Suid-Afrikaanse Superrugby-spelerspoel te verdiep, het Saru holderstebolder die Cheetahs en die Kings in die Pro14-reeks ingeboender.

Asof dit nie genoeg is nie, beloof hy toe sommer nog twee franchise’e aan Griekwas en die Pumas.

Die resultaat: Asof die suigkrag van die euro en die jen nie genoeg skade aan die Suid-Afrikaanse spelerspoel aanrig nie, werk Saru – wat veronderstel is om die Suid-Afrikaanse rugbykrag uit te bou – lustig saam aan die verwering daarvan.

Hoe kan daar hoop op herstel wees?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kiewiet ·

Wat moet gebeur is. Vat die Cheethas die Leeus , WP , Sharks , Kings en die Bulle gooi al die spelers bymekaar. Kies dan 3 sterk spanne uit al die spelers eweredig verdeel, gee hulle ander name en gaan speel dan in die super 15 reeks. Terwyl daar meer asgenoeg reserwe krag sal wees van die sperers wat oorbly. Beseerings sal ook nie in groot probleem wees nie want in die reserwe krag sal daar genoeg spelers wees.

Anel ·

Ek sê, los die super rugby en gaan speel in europa se ligas. Tydverskilzones baie beter vir die spelers en los die hoogmoedige aussies en ab dat hulle maar teen Japan en Argentinia speel. Hulle reisteid is baie beter as vir Sa spanne.

Henk ·

Wat miet gebeur is: Stig drie kommersieële spanne wat nie onder Saru staan nie. Maak rugby werklik totaal kommersieël en beding nuwe ooreenkomste met NZ en die Ozzies vir ń nuwe Super reeks. Die unies vas NZ en Oz is so gatvol vir Saru hulle kan toor! Saru word deur die regering behartig… kyk hoe goeie werk doen die regering op elke ander gebied, nou wonder mense hoekom rugby so sukkel.

Kry die rugby van Saru af weg, waar poste en posisies aan mense gegee word na gelang van hulle vel kleur eerder as hulle vermoeë.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.