Hofbevel stuit Oos-Kaapse Super 12 se halfeind

ooskaapwapenDie halfeindronde van die Oos-Kaapse Super 12-reeks is die tweede agtereenvolgende Saterdag uitgestel nadat die heersende kampioen `n hofbevel in dié opsig verkry het.

Dis die tweede keer die afgelope jaar dat `n klub in die Oostelike Provinsie hom tot die hof wend, nadat Despatch verlede jaar Port Elizabeth Polisie se benoeming vir deelname aan die internasionale reeks om die Goue Beker langs dié weg betwis het.

Die jongste dispuut spruit uit `n beswaar wat ingedien is teen `n speler wat vir Spring Rose van New Brighton teen Park van Port Elizabeth gespeel het.

Die OP Rugbyunie (OPRU) se ondersoekkomitee het bevind Rose het die volste reg gehad om die speler te gebruik, maar die bond se appèlkomitee het dié beslissing tersyde gestel. Die speler moes klaring kry voor hy van klub kon verwissel, is bevind.

Die appèlkomitee het beslis dat Rose met vier ligapunte gestraf moet word, en dat dit aan Park toegeken moet word.

Dit het beteken dat Park, pleks van Gardens soos aanvanklik bepaal is, vir die halfeindronde in aanmerking sou kom.

Die Uitenhaagse span, die heersende Super 12-kampioen en houer van die OP se Grootuitdaagbeker, het daarteen beswaar aangeteken, en die OPRU-bestuurskomitee het die wedstryde wat Saterdag 4 Maart beslis sou word (OL Polisie teen Park, en Spring Rose teen Progress) uitgestel.

Die bestuurskomitee het vervolgens die appèlkomitee se besluit bekragtig, en Gardens het die hofbevel gekry om te keer dat die wedstryde die afgelope Saterdag plaasvind.

Die OPRU het die klubs laat weet die halfeindronde is tot verdere kennisgewing uitgestel.

Die Super 12-reeks tussen die topklubs van die OP en Grens word in samewerking met die Oos-Kaapse sportdepartement en die provinsie se sportkommissie aangebied. Die reëls bepaal dat aspekte soos registrasie en klaring kragtens die bepaalde bond se grondwet besleg word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.