Hofsake ten spyt, eerste OP-skote klap

Ondanks die hofsake wat voorkom dat die Oos-Kaapse Super 12-oorgrensreeks afgehandel word, het die eerste skote in die Oostelike Provinsie se Grootuitdaagreeks Saterdag geklap.

Veral twee uitslae val op: Despatch het die Crusaders verinneweer met 104-3 en Park se sege van 17-10 oor Port Elizabeth Polisie.

Despatch, ʼn meermalige Suid-Afrikaanse klubkampioen, se vertoning in die Oos-Kaapse Super 12-reeks het kommer gewek, maar Saterdag se uitslag toon dat sy fut gewis nie uit is nie.

Aan die anderkant is dit niks minder nie as tragies dat een van die oudste klubs in die land – en op wie se veld Suid-Afrika sy eerste rugbytoets gespeel het – so ʼn vernedering moet smaak.

Crusaders het ʼn dringende reddingsboei nodig en ʼn mens wil vertrou iemand wat verder as die kommersiële waarde kyk, kom tot die klub se redding. Dis ʼn onvervangbare stukkie Suid-Afrikaanse rugby-erfenis wat die behoud daarvan verdien.

Dalk wil iemand ʼn woordjie in Johann Rupert se oor fluister.

Die res van die seisoen sal moet toon of Park, ook een van die OP se spogklubs van weleer weer op pad boontoe is en of Polisie, ʼn vorige Grootuitdaagkampioen en die bond se verteenwoordiger in die afgelope internasionale reeks om die Goue Beker, op die afdraende pad is.

In die ander wedstryde het die Brumbies (Grahamstad) met 28-8 teen Windvogel gewen; Suburban (Kleinskool) het met ʼn naelskraapse 13-11 teen Wallabies (Gelvandale) gewen; Port Elizabeth Harlequins het Kruisfontein (Humansdorp) met 52-19 oorrompel; en Barbarians het met 28-0 teen Sentraal (Graaff-Reinet) gewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.