Honger spelers huil by agente oor vernedering

southern kings - logoDie Oostelike Provinsie se rugbysirkus het in ʼn volskaalse tragedie ontaard. Die jongste toevoeging tot die rits hartseersake is rugby-agente wat nie betaal word nie, en spelers wat weens die wanbetaling letterlik moet bedel en selfs sekwestrasie in die gesig staar.

Dit het Woensdag aan die lig gekom heelparty agente wie se spelers by die OPRU speel, en direk deur die unie betaal word, sedert Junie nog nie hulle geld ontvang het nie.

Ander agente, wat hulle kommissie van die spelers vorder, is ook in geldelike verknorsing omdat hulle weens wanbetaling aan die spelers nie betaal word nie.

Van die spelers neem nou regsaksie en ander het letterlik by hulle agente gehuil oor die vernedering om geld en kos te bedel of geld by familie en vriende te leen.

♦ Woensdag is 17 spelers in kennis gestel dat hulle vir die Southern Kings se Supergroep gekies is. Hulle is kans tot Donderdag gegee om dit te aanvaar of van die hand te wys.

Die grootste gros van die OP Kings se staatmakers in vanjaar se Curriebekerreeks het egter nie die Superrugby-paal gehaal nie. Hulle keuse is nou om maar volgens die bestaande kontrakte Curriebekerrugby te speel en te hoop hulle word betaal, of om elders te gaan heenkome soek.

En dít is nie so maklik nie, want al die unies het reeds hulle begrotings uitgewerk en daarvolgens spelers gekontrakteer.

Hulle is deur die SA Spelersvereniging in kennis gestel dat hulle wel uit hulle kontrakte kan tree. Wat skynbaar seker is, is dat die agterstallige salarisse nie aan die spelers betaal kan/gaan word nie.

Dit sluit volgens die webtuiste rugby365.com in manne soos David Bulbring, Jacques Engelbrecht, Tazz Fuzani, Martin Ferreira, Ronnie Cooke, Dwayne Kelly, Enrico Acker, Michael van Vuuren, Scott van Breda, Aidon Davis, Gary van Aswegen en George Whitehead.

♦ Slegs twee van die nege nuwelinge wat die Southern Kings verlede maand vir hul Supergroep nadergetrek het, is onder die 17 spelers wat reeds verneem het of Woensdag sal hoor hulle is deel van die Kings se Superplanne.

Louis Fouché (Blou Bulle) en Stefan Watermeyer (Pumas) is glo die twee wat wel onder die 17 is, berig rugby365.com.

Die ander sewe wat deur die Kings as nuwe spelers bekend gemaak is, SP Marais, James Hilterbrand, Jurgen Visser, JC Roos, Caylib Oosthuizen, Mark Richards en Carel Greeff, moet nou òf Curriebekerrugby speel – met die wete dat hulle waarskynlik nie betaal word nie – òf die opsie weens die wanbetaling uitoefen om elders te gaan speel.

♦ Slegs die spelers wat deur die Southern Kings (Edms) Beperk se nuwe bestuursliggaam van Saru (bekend as SKSAR) aangewys word, sal betaling ontvang – en ook net vir die duur van die Superreeks.

Volgens rugby365.com is hulle Schalk Ferreira (stut), Tom Botha (stut), Edgar Marutlulle (haker), Steven Sykes (slot), Cornell Hess (slot), Stefan Willemse (flank), Thembelani Bholi (flank), CJ Velleman (flank), Luke Watson (flank), Aidon Davis (No.8), Kevin Luiters (skrumskakel), Elgar Watts (losskakel), Louis Fouche (losskakel), Shane Gates (senter), Stefan Watermeyer (senter), JP du Plessis (senter), Siyanda Grey (vleuel).

♦ Dit lyk of ʼn aantal junior spelers, insluitende drie van die seëvierende o.19s, en sewesspelers soos Tim Agaba en Siviwe Soyizwapi wat onlangs deur Saru gekontrakteer is, die Supergroep se aangewese 17 spelers sal aanvul.

♦ Die omvang van die tragedie is duidelik as mens in ag neem dat die administratiewe personeel ook hul probleme het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Marius van Niekerk ·

Cheeky Watson moet NOU bedank!!!! Hy is ‘n vreeslike verleentheid vir S A rugby. Jou arrogansie, en die van jou seun, moet nou ‘n einde kry!

Gerhard ·

Ek wil net iets sê, die span gaan mos verneder word in die Super Rugby reeks… en ek sien paar groot name daar… wat het hul besiel om Kings toe te skuif? Gaan van provinsie wat jou baie betaal na provinsie wat nie n sent het nie

Anton vd Westhuizen ·

Hoe is dit moontlik dat Luke Warson onder die groep is wat betaling sal ontvang?
Die man kon nie eers die Currie-beker reeks voltooi nie.
Wonder of Cheeky dit onderhandel het?
Die spelers moet met ‘n aksie begin “Cheeky must fall / go”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.