Hongkong is Snyman se eerste Blitsbok-sending

Quewin Nortjé sal weer deel van die sewesaksie in Hongkong wees nadat ’n besering hom langs die kantlyn gehou het. (Foto: Hansie Linde)

Hongkong sal Philip Snyman se eerste toernooi aan die stuur van die Blitsbokke wees. Die oudsewesspeler is in Maart as die tydelike hoofafrigter aangewys ná ʼn rits teleurstellende vertonings op die speelveld.

Suid-Afrika het ʼn uitstekende aanloop tot die sewesseisoen gehad toe hy die openingstoernooi tussen die duine van Dubai gewen het.

Maar daarna het die span ál vinniger op die glybaan van teleurstellende uitslae begin momentum opbou. Eers in Kaapstad, toe in Perth en toe in Vancouver en Los Angeles.

Die Blitsbokke is tans sewende op die amptelike HSBC-punteleer met 48 punte ná die vyf toernooie.

Indien Suid-Afrika nie die seisoen se aksie onder die voorste agt spanne afsluit nie, wink promosie-relegasie-wedstryde; iets wat in die Blitsbokke se gloriejare ondenkbaar was.

Snyman is egter tevrede met die groep spelers wat hy tot sy beskikking het.

“Dit is wonderlik om spelers soos Christie Grobbelaar, Ronald Brown, Dewald Human en Quewin Nortjé terug te verwelkom,” het hy gesê.

“Ons is maar alte bewus daarvan dat ons afgelope vertonings nie op standaard was nie en ons is ʼn beter vertoning aan onsself en ons ondersteuners verskuldig.”

Suid-Afrika sal teen Ierland, Spanje en Samoa in die groepfase te staan kom.

“Dit is ʼn baie taai groep en ons sal vanuit die staanspoor op alle suiers moet vuur. Deesdae kan jy nie meer bekostig om foute te maak nie, want enige span is goed genoeg om wedstryde te wen. Ons is oorgehaal om in die bekerkwarteindstryd te speel en ons werk hard op die oefenveld.”

Die Hongkong-toernooi word van 5 tot 7 April aangebied.

Blitsbokke se Hongkong-groep: Christie Grobbelaar, Ryan Oosthuizen, Impi Visser, Zain Davids, Ronald Brown, Selvyn Davids (kaptein), Shaun Williams, Dewald Human, Shilton van Wyk, Darren Adonis, Justin Geduld, Quewin Nortjé en Katlego Letebele.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.