Hongkong laat Dapper Bloeisels groot skrik

Hongkong het Japan Saterdag ʼn groot skrik op die lyf geja in hul kragmeting in Tokio in die Asiatiese Rugbykampioenskap.

Japan het wel uiteindelik met 29-17 op die Prins Tjitjiboe-gedenkveld gewen, maar die Dapper Bloeisels was 20 minute voor die einde nog met 12-17 agter.

Die tuisspan het aanvanklik gesukkel teen die Hongkongers se fisieke aanslag en ongewoon baie foute begaan.

Hongkong se Waliese afrigter, Leigh Jones, het ná die wedstryd aan Kyodo News gesê hy dink hy het sy bank verkeerd aangewend, en só die skaars kans op ʼn sege oor Japan deur sy vingers laat glip.

Jones het as verdedigingsafrigter van Japan gehelp om die Springbokke se ondergang teen die Bloeisels by 2015 se Wêreldbekertoernooi te bewerkstellig.

Hongkong het hom in Maart verlede jaar aan die hoof van sy beroepsprogram aangestel, en het onder sy leiding reeds merkwaardig gevorder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.