Hongkong met oud-Griekwa-hulp in WB-heruitdun

Matt Rosslee – nog verder voor. (Foto: HKRU)

Hongkong het Saterdag met die hulp van drie gewese Griekwas sy plek in November se Wêreldbeker-heruitdun in Frankryk bespreek.

Hy het die Cook-eilanders in hul weeromstryd in Hongkong met 51-0 gelooi, nadat hy verlede week die wegwedstryd in Ratatonga (ná ʼn uitmergelende reis van 25 uur) met 23-3 gewen het. Saam gee dit die Hongkongers ʼn onbetwisbare totaal van 77-3.

Een van die Suid-Afrikaners, Matt Rosslee (losskakel), het tien punte met twee doelskoppe en twee strafdoele behaal.

Hy het hiermee sy Hongkongse rekord tot 159 toetspunte opgeskuif.

Die ander twee in die tuisspan se opdrafvyftiental was Liam Slatem (skrumskakel) en Dylan Rodgers (vaskopstut).

Hongkong is die tweede span ná Kanada wat sy aanspraak op ʼn plek in die vierhoekige heruitdun bevestig. Wie ook al van Samoa en Duitsland aanstaande Saterdag se uitspeelstryd verloor, en die span wat tweede in die Afrika-aanspraakstryd kom, sal die ander twee plekke vul.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.