Hoofpyn? Watwou, Maandag oefen ons weer

Pat Lambie op pad grond toe nadat CJ Stander hom in die lug geloop het. (Foto: Skermskoot/YouTube)

Dis ʼn wonderwerk dat meer spelers nie permanente skade opgedoen het van die nagevolge van harsingskudding nie.

Of is ons net nie daarvan bewus nie?

Die veelsydige agterspeler van die Britse en Ierse Leeus, Jared Payne, is die jongste geval nadat hy onlangs teen die Chiefs ʼn stamp teen die kop gekry het en nou sukkel om die simptome van harsingskudding af te skud. Hy sukkel met migraine en word aan ʼn reeks verdere toetse onderwerp.

Dink ook maar aan Pat Lambie, Ben Smith, Dan Coles, Charlie Ngatai, George North, Ross Cronjé en hordes en hordes ander.

Dis ysigwekkend  om te lees dat 4 500 spelers in die Amerikaanse Voetballiga reeds in 2013 ʼn klas-aksie teen die NFL ingestel het nadat hulle harsingskudding opgedoen. ʼn Toonaangewende dokter beweer dat meer as 90% van die spelers simptome van harsingskudding toon.

Hoeveel keer het nie gebeur nie dat jy destyds ʼn wedstryd voltooi het en ná die tyd gesê het dat jy niks daarvan kan onthou nie?

ʼn Verpligte twee weke langs die kantlyn? Nog nooit daarvan gehoor nie, want Maandag was jy terug op kantoor en later die aand by die oefening, want jou hoofpyn sou mettertyd weggaan.

Ja, daar was baie minder kontak, stutte se werk was om te skrum en nie te têkkel of te hanteer nie en ja, daar was losskakels wat nooit hul broeke of truie vuil gekry het nie.

Maar daar was ook spelers wat die Wes-Randse wasgoeddraad (ʼn term wat een van die legendes van joernalistiek, Gerhard Burger, geskep het) vervolmaak het.

Jy het maar altyd jou een oog op dié betrokke speler gehou, want jy het geweet dis nie as nie, maar wanneer hy sy arm reguit gaan uitsteek.

Wanneer die bal hoog geskop is, kon jy jou maar regmaak om platgeloop te word, in die lug of op die grond en met of sonder die bal.

Bangmaakpraatjies?

Nee, ons moet net baie dankbaar wees dat die sportbase ingegryp het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JohanvSchaik ·

Meld bietjie die gewigs verskil tussen moderne rugby spelers en die spelers van 1990’s? Dit sal baie meer verduidelik oor die tipe van beserings wat ons vandag het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.