Hooper en Pocock gee Wallabies ‘n kans

Michael Hooper -kan hy die All Blacks help fnuik? (Foto: Facebook Wallabies)

Daar heers is ’n effense ongemaklikheid in die All Blacks-rugbykamp oor Saterdag se Rugbykampioenskap-toets teen die Wallabies in Sydney.

Nie oor die vlugvoetige Wallabies-agterspelers Israel Folau, Kurtley Beale of Will Genia nie, maar oor die losvoorspelerkombinasie van Michael Hooper en David Pocock.

Ja, ná elke toetswedstryd wanneer daar ontleding gedoen word, word daar gesê hoe belangrik die insette van die heelagter, agterste driehoek, senters, losskakel, skrumskakel, stutte (skrums), haker, slotte (lynstane) en losvoorspelers was.

’n Span kan nie sonder een van hulle behoorlik funksioneer nie, maar wanneer joulosvoorspelers die dag vlamvat, kan jy die ander span gek maak.

Dis hoekom die Wallabies ’n buitekans gegun word om die eerste van vanjaar se Rugbykampioenskap-toetse (en gepaardgaande Bledisloe-toets) teen die All Blacks te wen, maar alles sal daarvan afhang of Hooper en Pocock kan oorheers.

In die onlangse reeks teen Ierland in Junie het Hooper en Pocock in die eerste toets amok gemaak en die Wallabies het met 18-9 gewen.

Die Iere het vinnig ’n teenvoeter vir die tweede toets gekry, Hooper en Pocock as’t ware van mekaar vervreem en met 26-21 gewen. In die derde toets het die Wallabies vroeg die oorhand gehad voordat Hooper sy dyspier in die 17de minuut beseer het en nie kon voortspeel nie. Dit het die deur vir die Iere oopgeswaai om die toets (20-16), en die reeks, te beklink.

Nou het Hooper herstel en kan hy en Pocock die All Blacks nagmerries gee.

Hooper is een van daardie spelers wat nooit tou opgooi nie, want hy hardloop, hardloop en hardloop. Net soos my pa altyd van die oud-Springbokkaptein Hennie Muller vertel het.

Pocock is die Australiese weergawe van die Springbokhaker, Malcolm Marx. Hy kan ʼn span se lewe versuur, soos Heinrich Brüssow dit in 2009 teen die Britse en Ierse Leeus gedoen het.

Wanneer hulle op hul voete by ’n afbreekpunt aankom en met ’n teenstander met die bal op die grond meeding, is daar net een wenner.

In die onlangse Superrugby-eindstryd tussen die Crusaders en Lions, het Matt Todd-hulle ’n teenvoeter vir Marx gehad. Hulle het hom vinnig uitgehaal en ook gesorg dat hy byna nooit sy hande op die bal kon lê nie.

Maar kan die All Blacks-flank Sam Cane dit ook doen? Watter rol gaan Kieran Read vervul?

Dis maar een van die strooihalms waaraan die Wallabies vasklou, maar as Hooper en Pocock die dag kliek, kan hulle die All Blacks se drome versuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Rupert Ashford ·

Dit behoort ‘n lieflike wedstryd te wees om te kyk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.